Nudie-dokkie wat jy nie durf misloop

Is jy een van dié wat gelukkig genoeg was om die Pixies in Johannesburg of Kaapstad te sien optree? Dan is jy dit waarskynlik eens met kritici dat die Springbok Nude Girls by dié geleentheid hard genoeg gerock het om te wys hulle is ná 22 jaar nog bobaas. Die Nudies was uitgeknip vir hulle rol in die voorkonsert vir die Pixies, die internasionale musiekreuse wie se psigedeliese rock die weg gewys het vir groepe soos Nirvana en Radiohead.

Of jy die Nudies wel op die verhoog gesien het of nie, maak seker jy is ingeskakel vir die amptelike dokumentêre program oor die Springbok Nude Girls wat op 27 Maart op Showmax te sien is.

Dié dokkie is in Junie verlede jaar uitgereik en fokus op die groep se vormingsjare in Stellenbosch en hul meteoriese opgang tot een van die groepe wat aanhang verwerf het by oopkop jong mense wat destyds in opstand gekom het teen die regering van die dag. Die Nudies se eerste verhoogoptrede in 1994 het mense aan die praat gekry en dié rockgroep het oornag deel geword van die Suid-Afrikaanse psige. Die aanbreek van die demokratiese bedeling in 1994 het hulle verder aangevuur tot groter hoogtes (en soms ook tot die diepte van roem).

Arno Carstens, die voorsanger, se ouskool-benadering tot rock het gepráát met sy aanhangers en die groep se reputasie as partytjiediere het des te meer bygedra tot hope gewildheid. Maar, soos dit uit die dokkie blyk was dit nie alles só maklik nie.

Die groep het in 2001 ontbind en die lede het elkeen sy eie koers ingeslaan. Carstens het in 2006 ʼn Sama gewen vir sy solo-album The Hello Goodbye Boys en die kitaarspeler Theo Crous het die Afrikaanse groep KOBUS! begin terwyl hy as vervaardiger betrokke is by Prime Circle, aKing, Fokofpolisiekar, Karen Zoid en ander.

In 2007 het die Nudies weer die drade opgetel met tromspeler Francois Kruger, trompetspeler Adriaan Brand en baskitaarspeler Arno Blumer wat saam met Carstens en Crous Peace Maker, die groep se eerste album in vier jaar, uitgebring het.

Die Springbok Nude Girls-dokkie op Showmax bied jou meer oor die op én die af van dié groep, die hoë sowel as die lae note asook die spoor wat hulle gelaat het in die Suid-Afrikaanse musieklandskap.

Vanaf 27 Maart is die dokumentêr vir die eerste keer op ShowMax beskikbaar vir kykers in Suid-Afrika en die buiteland. Indien jy nog nie vir ShowMax ingeteken het nie, probeer die gratis 14 dae-proeflopie vir duisende ure se topklas vermaak op jou rekenaar, slimfoon, slim TV of tablet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.