Nuut op Showmax: Opwindende programme dié maand

SAFARI 4×4 ROETES Seisoen 10

Beskikbaar vanaf 4 April
Dis die tiende seisoen van Safari 4×4 Roetes, die reeks waarin 4×4-spesialis André de Villiers die land se grondpaaie platry saam met die hengel-spesialis Petri de Wet. Hulle beproef uitdagende 4×4-roetes en as hulle moeg gery is, is dit tyd vir kamp, kuier en braai.

LA’T WIEL Seisoen 16

Beskikbaar vanaf 5 April
Top Gear in Afrikaans! In La’t Wiel klim die gesoute motorjoernaliste Waldo van der Waal en Hannes Visser agter die stuur van ’n verskeidenheid motors om die toetswerk namens jou te doen. Hulle vergelyk alledaagse voertuie wat Jan Alleman kan bekostig, maar beproef ook sportmotors en luukse voertuie waaroor mens maar net kan droom. Die oorlog tussen Suid-Afrika se beste bakkies duur natuurlik ook voort – heerlike vermaak vir petrolkoppe.

KOKKEDOORTJIE Seisoen 1

Beskikbaar vanaf 6 April
In die kombuis bevat die kleinste botteltjies dikwels die bestanddele met die meeste skop – en net so is dit met die deelnemers aan kykNET se nuwe werklikheidsreeks Kokkedoortjie. Hulle is almal tussen 10 en 14 jaar oud, maar die tien kinderkokke wat aan Kokkedoortjie gaan deelneem, sal maklik koekmeel in die oë van meer gesoute kokke skop.

Kokkedoortjie (Foto: Showmax)

TYD MET ALEIT Seisoen 1

Beskikbaar vanaf 6 April
Aleit Swanepoel is alombekend as een van Suid-Afrika se voorste trou- en funksiebeplanners. Die stigter van The Aleit Group kuier elke week by ’n Suid-Afrikaanse bekende vir ’n stylvolle geselsie. Daar word mooi tafel gedek en lekkernye opgedis soos net Aleit kan.

KAMPKOS Seisoen 3

Beskikbaar vanaf 7 April
Beaté en John-Henry Opperman kuier om die kampvuur met Suid-Afrikaanse bekendes in Kampkos. Hulle kampeer en leer die kampkos-geheime van lekker mense ken, en smul aan goed wat op die vuur gaargemaak is.

MET ‘N HUPPEL IN DIE STAP Seisoen 2

Beskikbaar vanaf 10 April
As daar een mens is wat met gesag kan praat oor ’n betekenisvolle lewe ná 50, is dit seker die immergroen nuusleser Riaan Cruywagen, aan wie se energie, lewenslus en toewyding tot sy werk daar skynbaar geen einde is nie. In Met ’n huppel in die stap ontmoet Riaan ander lede van die ouer garde wat met oorgawe lewe.

KUNSVLYT Seisoen 1

Beskikbaar vanaf 10 April
Kreatiewe siele spook dit uit met papier, potlode, gom en kryte in Kunsvlyt, ’n realiteitsprogram waarin 10 deelnemers kragte meet om hulle kreatiwiteit te toets. Die persoon wat die slimste planne uitdink en die mooiste goedjies maak wen ’n reis na Duitsland, so jy kan strawwe kompetisie verwag. Die verf gaan behoorlik spat!

GLAM GURU Seisoen 12

Beskikbaar vanaf 10 April
Dis maklik om met min moeite mooi te lyk – vra maar vir Hannon, sekerlik Suid-Afrika se voorste oormaker. Hannon kry ʼn verskeidenheid mense onder hande: jonges en oues van alle groottes. Die een ding wat almal in gemeen het, is dat hulle sien hoe mens met ander oë na die wêreld kyk wanneer jy goed voel oor jouself.

PHIL 101

Beskikbaar vanaf 11 April
Phil 101 gaan oor die doen en late van die mense wat werk by die eens glorieryke filosofie-departement aan die Sentrale Universiteit van Suid-Afrika (SUSA). By dié departement dra gesonde verstand verskeie eksentrieke uitrustings, en minder gesonde en verstandige gedrag is aan die orde van die dag. Wanneer Phillip Coetzee as die hoof van die filosofie-departement aangestel word, raak hy betrokke by ’n stryd om oorlewing: hy en sy kollegas moet met vlymskerp tonge veg vir die bestaansreg van hulle vakgebied in ’n wêreld waarin dink by die dag minder ’n gewilde aktiwiteit word.

LEEF JOU REIS Seisoen 5

Beskikbaar vanaf 11 April
Nuwe reeks vol avontuur wat die wanderlust uit almal bring! Gerrie Pretorius kén van reis – dis immers sy werk om die wêreld plat te reis, en vir kykers nuttige wenke en reisraad te gee, sodat hulle self ook die pad kan vat en die wêreld te sien kan kry. Reis saam met Gerrie in die nuwe seisoen van Leef jou reis, en kry ’n voorsmakie van die bestemmings waarheen jy volgende koers kan kies.

SARA SE GEHEIM

Beskikbaar vanaf 12 April
Hulle sê drie mense kan ’n geheim hou as twee dood is, maar Sara se geheim is anders: sy is ’n ma wat ’n geheim moet hou om haar seun se lewe te red – al skeur dit ook haar familie uit mekaar.

As jy wil saamkyk aan hierdie heerlike reekse, teken in op Showmax. Dis bekostigbaar en gerieflik, en laat jou toe om jou gunstelingprogramme te kyk waar en wanneer jy wil, op ’n toestel van jou keuse. As jy eers wil toets of Showmax vir jou is, maak gebruik van die gratis 14 dae-proeflopie. Kry al die inligting by www.showmax.com.

*Let daarop dat hierdie reekse aanvanklik net vir Showmax-kykers in die buiteland beskikbaar gemaak word. Vertel gerus vir al jou familie en vriende dat hulle na dié lekker Afrikaanse programme kan kyk, eksklusief op Showmax.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.