Nuwe aanlyntelevisiediens met gesinsvermaak gou beskikbaar

hardus-zevenster-by-roeptv-bekendstelling

Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van RoepTV.com, sê hy is trots op die groot hoeveelheid oorspronklike Afrikaanse Christelike inhoud op dié nuwe mediaplatform. Foto: RoepTV/Twitter.

RoepTV.com, ʼn splinternuwe aanlyn televisiediens wat van 1 September oorspronklike Afrikaanse gesinsvermaak aan Suid-Afrikaners sal bied, is dié week in die Atterbury-teater in Pretoria amptelik bekendgestel.

Talle bekendes soos Retief Burger, Rouchelle Liedemann, Lindie Strydom, Riekert Botha en Gretha Wiid het ʼn reeks aktuele programme vir dié mediaplatform opgeneem. Belangstellendes het die geleentheid gehad om Maandag ʼn voorsmakie van die diens, wat op dieselfde beginsel as Netflix en Showmax werk, se inhoud te siene te kry.

Kykers kan onder meer uitsien na ʼn oorspronklike nuwe Afrikaanse komedie, NoupadFM, wat handel oor ʼn stadsjapie-radioheld wat by ʼn plaaslike gemeenskapsradiostasie aansluit. Die mediaplatform bied ook ʼn oorspronklike dramareeks, ʼn speletjiesprogram, ʼn verskeidenheid van internasionale rolprente en sowat 70 kinderprogramme aan.

“Die harde werklikheid is dat die sitkamer die plek is waar ons tyd saam met ons gesinne en families deurbring. In dié tyd word ons ook gewoonlik gebombardeer met inligting wat nie met die werklike waarheid strook nie,” het Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van RoepTV.com, gesê.

“Ons leef in ʼn era waarin ons basiese Christelike en morele waardes op televisie afgemaak word as outyds. Boonop toon navorsing dat 80% van TV-kykers erken dat die stories wat hulle op TV sien die grondslag vorm van die kultuur wat in hul huishoudings heers.

“Dit bevestig die stelling in die rolprentbedryf dat die wêreld vandag is waar Hollywood gesê het dit sal wees, 20 jaar gelede. RoepTV.com glo egter dat die wêreld vandag presies is waar Jesus gesê het dit sal wees, 2 000 jaar gelede. Ons verteenwoordig ʼn nuwe fase van Christelike TV met ʼn moderne aanslag. RoepTV.com se leuse is ‘Die Waarheid’ aangesien ons deeglik besef dat alleenlik die waarheid waarlik vry kan maak.”

NouPadFM

Kykers kan onder meer uitsien na ʼn oorspronklike nuwe Afrikaanse komedie, NoupadFM, wat handel oor ʼn stadsjapie-radioheld wat by ʼn plaaslike gemeenskapsradiostasie aansluit. Foto: RoepTV/Twitter.

Zevenster het bygevoeg dat hulle bevind het daar is ʼn gaping in die mark: “Sowat 71% van alle TV-kykers het vollengte programme in die afgelope ses maande aanlyn gestroom terwyl Multi Choice vir die eerste keer ʼn afname in intekenare aangedui het.

“Tog het soveel as 87% van Christene gesê hulle kyk tans nie na die inhoud op bestaande Christelike TV-kanale nie, maar dieselfde hoeveelheid het aangedui hulle het ʼn behoefte aan inspirerende inhoud.”

Zevenster glo RoepTV.com sal kykers die geleentheid bied om nader aan God te kom op enige tyd en plek. Hy is ook trots op die groot hoeveelheid oorspronklike Afrikaanse inhoud op die mediaplatform.

Die intekengeld vir RoepTV.com is R149 per maand en gebruikers het die voordeel dat vyf toestelle dieselfde intekennommer kan gebruik.

benescke-janse-van-rensburg

‘God is Daar’ met Benescke, is een van RoepTV se eksklusiewe programme wat handel oor gewone mense se getuienisse en hul persoonlike reis met die Here. Foto: RoepTV/Twitter.

“Waar ʼn mens dikwels op ander TV-programme die bewoording sien dat ‘die stasie nie verantwoordelikheid neem vir die inhoud nie’, doen RoepTV juis die teenoorgestelde. Ons neem 100% verantwoordelikheid vir wat ons uitsaai.

“Wanneer jou programme op die waarheid gegrond is, kan en moet jy daarvoor pa staan. Terselfdertyd is hoogstaande programme met ʼn hoë vermaakwaarde ononderhandelbaar vir ons. Die tyd dat programme met Christelike waardes substandaard hoef te wees, is nou verby,” het Zevenster bygevoeg.

  • Volg hierdie skakel vir ʼn voorsmakie van wat eksklusief gesien kan word op Roeptv.com vanaf 1 September.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans Zeelie ·

– Eerstens dink ek hulle prys is te hoog. Dis amper 50% meer as wat Netflix en Showmax gaan vra, en hulle het ‘n enorme internasionale verskeidenheid. RoepTV se prys laat my dink aan Netwerk24, jy is Afrikaans, so jy moet maar betaal.
– Hulle neem 100% verantwoordelikheid vir hulle inhoud. Wel, uit beginsel is daar niks mee verkeerd nie, maar gewoonlik lei sulke stellings ook maar na sensuur (‘censorship’), as die platvorms alles wil filtreer na hul subjektiewe mening, dan beteken dit slegs selektiewe inhoud gaan deur. Klassifikasie wetgewing behoort hulle genoeg aanduiding te gee vir wat is familie inhoud, en wat nie. Mense wat hulle ge-censor wil he, wil gewoonlik hul eie skaamtes in die lewe wegsteek, want dit laat hulle “goed” lyk.
– Assosiasie met Gretha Wiid… Ja… Sy het ‘n baie teleurstellende boek geskryf met negatiewe insae vir gay tieners. Die skade wat haar boek aan sulke mense se lewens rig is groter, as wat haar ongekwalifiseerde sieninge ooit sal begrip… So as RoepTV haar aanroep, dan kan mens net begin wonder watse inhoud RoepTV gaan uitsaai – indoktrinasies, of werklike waarheid? Hulle leuse mag hulle dalk net weerspreek.
– Maar goed voor iemand die stuipe kry dat ek dalk ‘negatief’ is, hulle idee klink goed, en ‘n Suid-Afrikaanse aanlyn stroom-diens is welkom, maar moet net nie skuil agter geloof en mooi-praat, vir geld nie…

Staak ·

Ja-nee, as jy porn wil kyk dan is daar baie en gratus ook, ek betaal eerder hierdie R149 en ek weet my kind kan saam my sit en kyk.
Lekker man, die hele gesin voor n TV sonder om te vrees wat die inhoud is nie, nes in die ou dae.

Hendrik van George ·

Jammer dat dit weer ‘n Christelike aanslag sal hê. Bereid om in te teken as dit ‘n Afrikaanse kanaal was, met Afrikaanse flieks en reekse. Snaaks dat Christelike inhoud die enigste waarheid is. Kom nou mense, ‘n Afrikaanse “streaming” kanaal waarna Afrikaans sprekendes reg oor die wêreld kan kyk, dis wat ons nodig het. Nie nog ‘n sogenaamde Christelike kanaal nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.