Nuwe afrigters vir ‘The Voice SA’

Beoordelaars van The Voice SA 2 (Foto: Verskaf)

M-Net het die afgelope week talle aankondigings gedoen oor veranderinge in die derde seisoen van die bekende sangkompetisie The Voice SA.

Anele Mdoda, die bekende radio-persoonlikheid, is die nuwe aanbieder van The Voice se derde seisoen wat in Februarie 2019 begin.

Tot baie aanhangers se skok het Bobby van Jaarsveld ook Woensdag op Instagram aangekondig dat hy die kompetisie as afrigter sal verlaat.

Foto: thevoicesa.dstv.com

“So dit is die einde van my The Voice-reis. Toe ek die eerste keer die nuus gehoor het dat ek ʼn afrigter op The Voice gaan wees, was ek só opgewonde en gelukkig. Ek voel so bevoorreg om vir twee seisoene deel van die program te kon wees, dit was ʼn ongelooflike reis en ek wil almal bedank wat deel daarvan was … ek gaan dit baie mis.”

“Ek weet en ek aanvaar dat verandering nodig is vir die derde seisoen, en ek respekteer dit. Alle voorspoed vir die nuwe afrigters en spanne,” het Van Jaarsveld op Instagram geskryf.

Riana Nel (Foto: Verskaf)

Die bekende Afrikaanse sangeres Riana Nel is intussen as een van die nuwe afrigters in die derde seisoen aangewys.

“Ons is geëerd en opgewonde om Riana as deel van ons afrigters vir die derde seisoen te hê,” het Lani Lombard, hoof van publisiteit by M-Net, gesê.

“Sy is plat op die aarde, saggeaard en vriendelik, maar dit keer nie haar kompeterende siel en pligsgetrouheid nie. Sy het ʼn uitstekende werk gedoen as Lira se mede-afrigter in die tweede seisoen, so sy sal beslis die ander beoordelaars laat sweet.”

Nel het gesê sy is op soek na mense wat net hulself is. “Ek is gereed om weggeblaas te word deur talent en ek wil ʼn ondersteuner wees vir mense wat regtig sang hul beroep kan en wíl maak,” het sy gesê.

“Ek is op soek na iemand met ʼn stem wat my gaan hoendervleis gee. Die tipe stem wat jou wil laat huil, lag of wat jou net wil laat opstaan uit jou stoel. Met ander woorde soek ek iemand wat ʼn verbintenis met my hart skep.”

Riky Rick (Foto: Instagram

Die bekende kletsrymer en musiekvervaardiger Riky Rick is ook as een van die ander nuwe afrigters aangekondig.

“Met sy miljoene sosialemediavolgelinge, unieke musiekstyl, interessante uitkyk op die wêreld, en aweregse klerestyl, is hy die middelpunt van aandag waar hy ook al gaan,” het Lombard gesê.

Riky het gesê hy is baie opgewonde om ʼn afrigter te wees omdat sy hele familie reeds aanhangers van die program is.

“As die deelnemers aan die blinde oudisies weet wat goed is vir hulle, sal hulle vir mý kies om hul afrigter te wees! Ek sal vir hulle daardie ekstra bietjie kan gee in terme van voorlegging, uitvoering en selfvertroue,” het hy gesê.

Die ander twee afrigters, wat met Riky en Riana gaan meeding, sal later die week aangekondig word.

The Voice SA se sogenaamde blinde oudisies word op 21 en 22 November in Randburg in Johannesburg opgeneem. Toegang is gratis, maar dit is noodsaaklik om jou plek hier te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

LB S ·

Hoekom Christa, omdat Bobby nie meer deel daarvan is nie? Mmmmm? Of is dit nou oor die Rapper?

LB S ·

Ek sal nog nie sê nooit weer nie, maar mag dalk ook binnekort myself aan jou kant skaar.

Ouma ·

Anele is baie goed op 947 maar wat weet sy van sing. Ek sal ook maar moet oorskakel om iets anders te kyk.

Koos ·

Maak die ander 2 beoordelaars van ANC en EFF dan is die prysgeld ook sommer weg

Stoffeltjie ·

Nee wat. Daar is seker nou weer politieke inmenging. Kyk maar hoe het dit in die Idols gegaan.

LB S ·

Presies, Stoffeltjie. Hulle gaan nou weer ‘n goeie ding opneuk. En wat was fout met Lira, ek dink sy was fantasties. En so ook Kahn.

Denise ·

Nee wat, lyk my nou gaan The Voice dieselfde paadjie volg as Idols. So polities korrek… Soos wat ek ophou Idols kyk het, sal ek nou ook ophou om The Voice te kyk.

Lennie ·

Ek weet nie hoekom kyk julle altyd in die kleur van ander mense vas nie.Elke een van julle het bydrae tot die land se val omdat julle nie wil leer om te aanvaar en lief te wees vir ander nie maar eerder altyd wil praat oor rasse en dan more weer kla oor rassisme dit maak my naar.

Lennie ·

O en die ander afrigter wat nie genoem word nie is Francois Van Coke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.