Nuwe Afrikaanse, Christelike kinderanimasie wen internasionaal

Die nuwe Afrikaanse en Christelike kinderanimasiereeks, Superheld 101, het onlangs ʼn internasionale animasieprys gewen.

Superheld 101, wat op TweenOvate voorkom, sal van 20 Desember af gratis en aanlyn beskikbaar wees.

Superheld 101 bestaan uit drie hoofkarakters, naamlik Simon, Dawid en Mari. Hierdie drie karakters wil graag superhelde wees soos hul gunstelingstrokiesprentheld, Kaptein Ligweg. Maar daar is net een probleem: Dié drie is alles behalwe superheldmateriaal.

Maar tog droom hulle groot en glo hulle dat hulle nes Kaptein Ligweg die wêreld sal kan red van skelms en slegte mense.  En so begin dié drie se avonture as superhelde.

Eon de Bruin, wat die animasie gemaak het, het by die Animation @Work-kompetisie met die eerste plek in die sakeondernemingskategorie weggestap.

De Bruin het sy eerste animasie gemaak as die musiekvideo van die Christelike tienersanggroep Victory5. Toe De Bruin sien daar word ʼn kompetisie vir animasies gehou, het hy sy musiekvideo ingeskryf. Hy het nie gewen nie, maar het vanjaar weer probeer en toe met die prys weggestap.

Met die sukses van hierdie musiekvideo het die idee ontstaan om ’n Afrikaanse Christelike animasiereeks te skep.

“Animasies is so gewild onder kinders vandag, maar daar is nie enige Afrikaanse Christelike animasies beskikbaar vir hulle nie,” sê hy.

Hy het toe in Augustus 2018 met die proses begin en die teks begin skryf vir episode een. De Bruin sê die episode het hom 15 maande geneem om te maak en dat hy baie trots op die toekenning is.

“Die gladde vloei en goeie karakters in die animasie is wat Eon laat wen het,” het die beoordelaars gesê.

De Bruin het $2 000 in dié kompetisie gewen.

“Ek voel so geëerd om eerste plek te wen in hierdie kategorie, omdat dit ʼn Afrikaanse animasie is wat wêreldwyd erken word. Ek is opgewonde dat my harde werk erken word en ʼn prys wen. Ek voel baie nederig,” sê hy.

In Desember vanjaar word daar begin werk aan episode twee van Superhelde 101, wat volgende jaar bekendgestel sal word. Superheld 101 sal vroeg in 2020 ook in Engels vertaal word. Vir meer oor dié nuwe animasie, besoek hul webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.