Nuwe Afrikaanse reekse dié maand op die kassie

Armand Aucamp (Foto: Jenni Elizabeth)

Drie splinternuwe Afrikaanse reekse begin dié maand op kykNET.

Kykers kan onder meer uitsien na Knapsekêrels, ʼn reeks geskryf deur Paul C Venter, wat volg op die groot sukses van Vlug na Egipte en Terug na Egipte. Knapsekêrels bestaan uit 13 uur lange weeklikse episodes.

Die moeilikheid, komplikasies en hartseer wanneer ʼn verhouding verbrokkel kom onder die loep in die reeks Skelmpie en in die reeks Die kasteel kom die humoristiese avonture van ʼn Waterkloof-gesin wat hulself in ʼn verknorsing bevind na vore.

Gewilde reekse soos Sara se geheim en Ons sprokiesbruilof keer ook terug na die kassie vir ʼn tweede seisoen.

Hier is ʼn volledige opsomming:

Knapsekêrels (Begin op 9 Januarie om 09:00)
Knapsekêrels vertel die storie van vier huisgesinne – die Bekkers, die Zimmermans, die Davidse en die Fortuins – wat mekaar noodgedwonge beter leer ken wanneer ʼn lid van elke gesin betrokke raak by ʼn jaagtog om oorlewing en bestaansreg in Johannesburg. Met Armand Aucamp, Christia Visser, Terence Bridgett, André Odendaal en Dawid Minnaar. Lees meer oor Knapsekêrels op Maroela Media.

Die kasteel (Begin op 10 Januarie om 20:30)
Die kasteel vertel die storie van ʼn gesiene egpaar van Waterkloof in Pretoria. Eckard (Hannes Muller), ʼn belegger, en die eksskoonheidskoningin Tina-Marie (Dorette Potgieter) gaan deur ’n finansiële verknorsing en besluit om hul “kasteel” in Waterkloof te omskep in ’n boetiekhotel. Ook met Cintaine Schutte. Lees meer oor Die kasteel op Maroela Media.

Sara se geheim (Begin op 13 Januarie om 20:00 op kykNET & Kie)
Die Cloetes, Kiewietse en Vermeulens word verbind deur een persoon – Sara Abrahams. Sy is die stammoeder en dra swaar aan ’n diep, donker geheim: ʼn leuen wat sy 35 jaar gelede uit nood moes vertel om haar oudste seun se lewe te red. Met June van Merch, Dawid Minnaar, Marlo Minnaar, Brendon Daniels en Nicola Hanekom.

Skelmpie (Begin op 13 Januarie om 20:00)
Skelmpie fokus op die “moeilikheid, komplikasies en hartseer” wat onstaan wanneer een party ʼn verhouding laat verbrokkel weens ontrouheid. Die program gaan verder poog om ʼn slagoffer, of slagoffers, van ʼn gebroke verhouding die kans te gee om ʼn hoofstuk af te sluit. Met Riaan van Heerden as aanbieder. Lees meer oor Skelmpie op Maroela Media.

Ons sprokiesbruilof (Dinsdae om 20:00 op kykNET&kie )
In dié werklikheidsprogram volg Sorina Erasmus elke week ’n bruidspaar se liefdesverhaal tot voor die kansel. Sy gesels oor hul eerste ontmoeting, verhouding, familie en vriende, asook die beplanning wat gedoen is vir die bruilofsdag.

Parlement, parlement
Die kykers het gepraat en Elana Afrika-Bredenkamp en die res van die span keer terug vir nog ’n reeks van dié program. Parlement, parlement is ’n humoristiese paneelprogram waarin komediante die “parlement” oorneem om die sake wat Jan Alleman die diepste raak, te debatteer. Met Elana Afrika-Bredenkamp, Louw Venter en Joey Rasdien.

Ander gewilde programme wat reeds begin het
Elders: Die Camino (Dinsdae om 17:30)
Die joernalis en skrywer Erns Grundling se boek, Elders, waarin hy vertel van sy staptog op die bekende Camino in Spanje, is nou ook ’n TV-reeks. Hy besluit om weer die Camino aan te pak; hierdie keer saam met ʼn kameraspan. Die kykNET-span ontmoet hom in Kaapstad waar hy voorberei om weer ongeveer 380 km te voet in Spanje aan te durf.

Op die spel (Woensdae om 20:00)
Rian van Heerden is weer die aanbieder en waarborg humor, spitsvondige opmerkings en vermaak uit die boonste rakke. Gerhard van Huyssteen is weer die beoordelaar. Die doel van dié spel-speletjie is nie net om Suid-Afrika se spel-kampioen op te spoor nie, maar om in die proses algemene kennis asook kennis van idiome en kreatiwiteit toets – alles in Afrikaans.

Oppi kassie (Sondae om 20:00)
Voor die eerste TV-uitsending in 1976 was die gedagte van televisie volksvreemd. Oppi kassie is ’n dokumentêre reeks wat fokus op die geskiedenis van televisie in Suid-Afrika. Stories en staaltjies word gedeel deur mense soos Koos Bekker, Tobie Cronje en Katinka Heyns en dan is daar ook spesiale onderhoude met Verna Vels wat in 2014 dood is.

Fluiters (Saterdae om 22:00 op kykNET&kie)
Die speurdrama Fluiters, geskryf deur Deon Opperman, voer kykers weg na ’n wêreld wat hulle nog nooit gesien het nie: ’n onderwêreld wat hulle saam met die protagoniste ervaar en moet leer ken;  ʼn verraderlike net van intrige wat die helde dwing om diep in hulle eie lewens te gaan soek na die krag en moed om te oorleef. Met Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Jacques Bessenger, Marisa Drummond, Neels van Jaarsveld, Kim Syster, Fezile Mpela en Wayne van Rooyen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bianca ·

Hi.
Dit se Sara se Geheim en Skelmpie begin op 13 Januarie om 20:00 ??

daan Venter ·

Parlement, parlement?!#$ ag nee! Om nie te praat van Skelmpie nie. Kan vooraf sè kommin.

Wil net weet ·

Is al hierdie nuwe Afrikaanse reekse net op Kyk Net te sien of is daar enige van hulle wat uitgesaai word op SABC 2 ook?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.