Nuwe Deon Meyer-reeks begin verfilming

Hilton Pelser. (Foto: verskaf)

Aanhangers van Deon Meyer se gewilde 2004-blitsverkoper, Infanta (Devil’s Peak), kan hulself gereed kry vir ’n kleinkassie-bederf wat binnekort die skerms tref.

Die reeksweergawe van dié 18 jaar oue verhaal het pas met verfilming in Kaapstad afgeskop.

Die reeks, ook getiteld Devil’s Peak, sal in 2023 op M-Net-kanaal 101 te sien wees. Dit is ʼn veelvlakkige misdaadriller wat in Kaapstad afspeel en is gebaseer op die eerste aflewering van Meyer se gewilde boekreeks oor speurder Benny Griessel.

Dit volg die verhaal van die talentvolle maar gebroke Griessel se probeerslae om ’n moordenaar vas te trek wat die verbeelding van Kapenaars op hol het.

Griessel word deur Hilton Pelser, bekend vir sy rolle in Kissing Booth en Glasshouse, vertolk. Die bekroonde Trackers-akteur, Sisanda Henna, is ook in die reeks te sien.

“Met Devil’s Peak is ons trots daarop om voort te gaan om in die heel beste, goed vervaardigde premium plaaslike inhoud te belê,” het Yolisa Phahle, hoof van algemene vermaak en video van MultiChoice, gesê.

“Dit is nie net ’n oorspronklike Suid-Afrikaanse storie met ’n Suid-Afrikaanse rolverdeling nie, dit word ook in ons eie agterplaas verfilm – tot voordeel van verskeie bedrywe. Ons twyfel nie dat gehore sterk aanklank by Devil’s Peak gaan vind nie.”

Die bekroonde Jozua Malherbe is in die regisseurstoel vir die reeks.

BBC Studios, wat Lookout Point besit, sal die reeks aan internasionale gehore versprei. Lookout Point en Expanded Media Productions in samewerking met MultiChoice Studios en BBC Studios Distribution staan agter die vervaardiging van die reeks.

Meyer is opgewonde om nog ’n projek saam met MultiChoice van stapel te stuur.

“Benny Griessel het sy fiktiewe lewe as ’n nederige eenmalige karakter begin, en nooit in my wildste drome het ek gedink hy sou eendag deel wees van ’n internasionale TV-reeks nie. Ek is absoluut verheug dat hierdie briljante span hom en sy storie lewend sal maak,” het Meyer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.