Nuwe dokkie wys hoe Silwerskermfees SA-flieks vlerke gee

(Foto: Maroela Media)

Die kykNET Silwerskermfees vier vanjaar sy 11de bestaansjaar met ʼn spesiale dokumentêre program wat belig hoe kykNET en die fees sedert 2012 ’n weg vorentoe vir ’n nuwe geslag rolprentmakers gebaan het.

In Agter die silwerskerm vertel die feesstigters, Karen Meiring en Jan du Plessis, hoe die fees tot stand gekom het toe die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf in ’n doodloopstraat was.

Van die vervaardigers, regisseurs, skrywers, agter-die-skerms rolspelers en akteurs wat hulle buigings in die bedryf aan die Silwerskermfees se kortfliekprojek te danke het, deel ook staaltjies oor die pad wat hulle saam met die fees gestap het.

Daaronder tel Christiaan Olwagen, wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena, die baanbrekers Ephraim Gordon en Amy Jephta van Barakat -faam, en die fliekmakerspaartjie, Corné en René van Rooyen, wat Vaselinetjie en Toorbos agter hulle name het.

Voorts raak Arnold Vosloo, bekende Hollywood-akteur en beskermheer van die fees, nostalgies oor sy eerste besoek aan die Silwerskermfees.

“Die Silwerskermfees speel ’n uiters belangrike rol in die voortbestaan van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiebedryf,” sê Waldimar Pelser, M-Net Direkteur: Premium Kanale.

(Foto: Maroela Media)

“Augustus is tradisioneel Silwerskermfees-maand en ons sien uit daarna om vir ’n 11de keer die fees aan te bied. Dit is ’n lanseerplatform vir puik rolprente asook die loopbane van belowende visuele storievertellers.”

Die Silwerskermfees vind vanjaar weer plaas by die Bay Hotel in Kampsbaai, Kaapstad. Die fees sal oudergewoonte ’n vertoonvenster vir ’n aantal blinknuwe vollengte rolprente wees, terwyl 15 kortflieks, wat onder die vaandel van die Silwerskermfees vervaardig is, ook onder die fees se premières sal tel.

Daarbenewens sluit vanjaar se program ’n rits mini-dokumentêre programme in. Dié dokkies, wat elk tussen 20 en 30 minute lank is, vorm deel van ’n opwindende ontwikkelingsprojek wat kykNET en die Silwerskermfees verlede jaar van stapel gestuur het.

Die volledige feesprogram, asook inligting oor hoe die publiek deel van dié spoggeleentheid kan wees, sal later vanjaar bekend gemaak word.

Agter die Silwerskerm is op Sondag 12 Februarie om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te siene. Sentient Creative het die dokumentêr vir kykNET gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.