Nuwe drama ‘Waterfront’ binnekort op Showmax te sien

Showmax en kykNET het die eerste lokprent vir Waterfront vrygestel, ’n sterbelaaide donker familiedrama wat in die onderwêreld van een van Suid-Afrika se voorste toeristebestemmings afspeel.

Bootbou-patriarg Ben Myburgh (SAFTA-benoemde Dawid Minnaar) is dood. Sy afsterwe bring sy drie dogters – Julia (Die Byl se Milan Murray), Anna (Silwerskerm en Fleur du Cap benoemde Rolanda Marais) en Kate (Die Boekklub se Trix Vivier) – terug na die familieonderneming in die Kaapstadse hawe. Net een van hulle sal egter die familie se sakeryk erf in hierdie skaduverhaal van geheime, mededinging tussen sibbe en ingrypende verandering in ’n woonbuurt.

Silwerskerm-wenners Albert Pretorius en Erica Wessels, Fleur du Cap-wenners Charlton Lee George, Paul du Toit en Stian Bam en 2017 SAFTA-benoemde Neels van Jaarsveld deel die skerm met bekende gesigte soos Edwin van der Walt (Ballade vir ʼn Enkeling), Hannes van Wyk (Kwela, Egoli, danZ!), Joanie Combrink en Marvin Lee Beukes (Die Byl) en Tarryn Wyngaard (Noem My Skollie).

Maar in dié reeks is die groot ster die V&A Waterfront. “Dis so ’n besonderse plek, en nog nooit vantevore op dié manier in ’n plaaslike dramareeks aangewend nie,” sê vervaardiger Herman Binge van Lion’s Head Productions.

Die reeks wil ons herinner dat die Waterfront se skoonheid teen ʼn prys gekom het: die verryking van die area wat op die ontwikkeling van die inkopiesentrum in die 80’s gevolg het, het beteken dat nie al die Waterfront se bure kon bekostig om aan te bly nie, aangesien eiendom in die area skielik goud werd geword het. Selfs mense soos die Myburghs is onder geweldige druk geplaas om te verhuis.

“Toe ek klein was, was die Waterfront ’n soort skeepswerf,” onthou aktrise Euodia Samson (Die Byl). “Dit was ’n wonderlike wêreld, want daar was mense en vissermanne oral. Deesdae is dit so prim and proper, mens moet hakskoene aantrek as jy hierheen wil kom.”

Charlton Lee George (Die Boland Moorde) stem saam. “Dit het heelwat verander sedert die tagtigerjare. Hierdie was ’n gevaarlike plek, so dit was baie interessant om te sien hoe dit ’n toeriste-mekka word.”

Waterfront is oorspronklik opgedroom as sepie. Dit was saam met The Wild op die kortlys toe M-Net ’n sepie gesoek het, en saam met Suidooster toe kykNET een wou hê.  Maar toe Fleur du Cap en Kanna-bekroonde regisseur Jaco Bouwer (Rooiland, Samsa-Masjien) betrokke geraak het, het hy eerder familiedramas soos Bloodline en Noorse noir soos The Killing as verwysings betrek.

Saam met draaiboekskrywer Leon Kruger het Bouwer nuwe lewe in die konsep geblaas en die fokus verskuif na die komplekse menseverhoudings aan die hart van die storie. Die plekke waar die aksie grootliks afspeel is verskuif van die helder inkopiesentrum na die donker hoekies en draaie van die hawe. “Ek wou nie ʼn goeie en ’n slegte karakter skep nie,” sê Kruger, wat as akteur saam met Bouwer gewerk het aan Die Boland Moorde. “Ek wou iets grys skryf.”

Bouwer glo die reeks slaan ’n nuwe rigting in vir Suid-Afrikaanse televisie, met komplekse struktuur en morele kodes, en tot vyf storielyne wat gelyktydig hardloop. Enkele tonele word oor die verloop van 13 episodes versplinter en daar is terugblikke en tonele wat vooruit kyk. “Ek glo en hoop dat plaaslike gehore gereed is hiervoor,” sê Bouwer. “Ek dink nie ons het al iets oos Waterfront op plaaslike televisie gesien nie.”

Waterfront vervang Die Boekklub op kykNET (DStv Kanaal 144) op 10 Oktober 2017 om 20:00 SAST, en sal die volgende dag reeds op Showmax wees. Nuwe episodes verskyn weekliks.

Teken in op Showmax om Waterfront en ander kwaliteit reekse te kyk, net wanneer en waar jy wil. Vanaf 11 Oktober is Waterfront vir die eerste keer op Showmax beskikbaar. Indien jy nog nie vir Showmax ingeteken het nie, probeer die gratis 14 dae-proeflopie vir duisende ure se topklas vermaak op jou rekenaar, slimfoon, slim TV of tablet.

*Let daarop dat hierdie reeks vanaf 11 Oktober vir Showmax-kykers in Suid-Afrika en die buiteland beskikbaar gemaak word. Laat weet gerus jou vriende en familielede in die buiteland!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.