Nuwe dramareeks eersdaags op kykNET

Deon Coetzee en Amalia Uys in 'Spoorloos'.

Deon Coetzee en Amalia Uys in ‘Spoorloos’.

Die splinternuwe dramareeks, Spoorloos, wat op 9 Oktober begin, beloof om kykNET-kykers vasgenael te hou voor die kassie.

Die storie speel af in die dorpie Digtersdal in die Oos-Kaap. Dit is ʼn spookdorp op soek na genesing en herlewing, maar ná 13 jaar van onopgeloste raaisels keer die reeksmoordenaar van destyds skielik terug. Om die moordenaar op te spoor, moet ʼn speurder en joernalis al die ou wonde oopkrap.

Terselfdertyd is daar ook drie kinders wat die monster probeer vastrek en familie-intriges soos net in ʼn klein dorpie kan wees.

In die rolverdeling is ʼn paar veteraanspelers asook nuwe gesigte. Die reeks is in Cradock in die Karoo geskiet en die dorp en sy mense dien as agtergrond vir dié nuwe reeks.

Deon Coetzee is te sien as Werner Malan, ʼn sakeman, politikus en boer. Hy is getroud met Angelique (Catriona Andrew) wat uit ʼn ryk Engelse familie kom. Hulle seun, Werner jr. wat almal Junior noem (Francois Jacobs), is getroud met Lara (Amalia Uys), ʼn gekneusde engel op soek na redding uit haar versmorende huwelik. Lara het ʼn 12-jarige seun, Jan-Gustav (Neil Slabbert).

Ian Vos (Ludwig Binge) werk by ʼn advertensieagentskap in die stad. Hy was 17 jaar oud toe sy broer, Benjamin, deur die reeksmoordenaar vermoor is. Sy ma, Frieda (Wilmien Rossouw), woon nog op Digtersdal.

Adam Arendse (Zane Meas) is ʼn politieke leier en aktivis en pa van Keagan (Charl Fleurs), ʼn slim seun hoewel hy effens van ʼn bangbroek is.

De Wet (Eric Bouwer) is ʼn speurder van Johannesburg en Sonja Landman (Kim Lategan) is ʼn TV-joernalis wat groot drome het om ʼn ondersoekende joernalis te word. Gert Neethling (Lieb Bester) is die dronklap van die dorp en sy vrou, Magda (Elsabé Daneel), is iemand wat wys wat onvoorwaardelike liefde beteken.

Sibusiso Jele (Kagiso Rathebe) is De Wet se kollega, Lusanda Miya (Sibulele Gcilitshana) is kaptein en Deon Prinsloo (Ashley Taylor) is ʼn siniese speurder by die plaaslike polisiestasie.

Ander karakters is ds. Els (Morné Visser), maplotter en dwelmhandelaar Piet “Pille” Taljaart (André Odendaal) en sy dogter, Esti (Ineke van der Merwe), die waarnemende skoolhoof, mnr. Immelman (Hannes van Wyk), Marie Fick (Lizz Meiring), die bestuurder van die plaaslike koerant, en Fezile Grootboom (SK Sombokwe), Werner se voorman.

Die reeks is gegrond op Daddy Longlegs, ʼn boek deur die Suid-Afrikaanse skrywer Vernon Baumann. Die draaiboek is deur Ilse van Hemert geskryf en sy was ook saam met André Odendaal die mede-regisseur.

Skakel vanaf 9 Oktober, om 20:00, in op DStv-kanaal 144 vir Spoorloos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

CK ·

Ek geniet al die sepies op KykNet veral Fynskrif. Dankie aan KykNet

Nettie ·

Aggenee! Dit beteken dat dit laaste uitsending van Fynskrif op 2 Oktober 2018 sal wees ….. Ek geniet dié reeks vreeslik baie. Om te dink ek het eers glad nie “Sara se Geheim” of “Die Boekklub” gekyk nie ….

Stefan ·

144 se reekse is tops. Hul komedies…., wel jan mens dit regtig “komedies” noem?

Cecile ·

Ons kyk nou Fynskrif, baie goeie storie, geniet dit vreeslik. Sien uit na die nuwe reeks!!

ertjie ·

die verpligte engelse subtitels onder aan Afrikaanse films irriteer my te veel om die prente ten volle te geniet.

Niel ·

die “verpligte engelse onderskrifte” help vir die Dowes baie om die Afrikaanse films te geniet. Dankie vir die opsit van die onderskrifte

Jax ·

Gaan verby! Nee dankie! Ek het nou net mooi genoeg gehad van sepies – veral Afrikaanse sepies! Om daarna te kyk, voel soos kougom kou of soos n koei wat staan en herkou!
Ek kyk eerder n dokumentêr of verdiep my in n goeie boek. Die kassie interesseer my al lank nie meer nie.

Alet ·

Ek kan nie wag nie!!
Kan julle nie asb vir ons foto’s van al die spelers opsit met hulle name daarby nie? Sommige ken ek, ander onthou ek vaagweg, en ander ken ek nie. Dit sal nou lekker wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.