Nuwe flieks, formaat wink vir fliekNET

June van Merch as Baby, Sandra Prinsloo as Liesbet, Tobie Cronjé as Vasie en Pierre van Pletzen as Hans in die fliek, ‘Hans steek die Rubicon oor’. (Foto: Verskaf)

DStv het aangekondig dat die Afrikaanse rolprentkanaal fliekNET vanaf 16 Julie na sy oorspronklike formaat as opwipkanaal sal terugkeer.

Volgens ʼn verklaring word die permanente fliekNET-kanaal op 15 Julie om middernag gesluit, en dit sal daarna ook nie meer op die DStv Premium-pakket beskikbaar wees nie.

kykNET het onlangs sy fliekaanbod uitgebrei met ʼn nuwe gleuf vir TV-rolprente op Saterdagaande om 20:00. Kykers kan uitsien na die voorste fliekvermaak wat op dié kanaal vertoon gaan word en die rolprente sal kort daarna op DStv Catch Up beskikbaar wees met ʼn groot verskeidenheid Afrikaanse flieks wat ook op Showmax te sien is.

Die kanaal is intussen besig met ʼn projek om 90-minuutrolprente te ontwikkel en te vervaardig en hierdie flieks sal na verwagting in 2023 op kykNET uitgesaai word.

ʼn Fliekweergawe van Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor is die jongste van ʼn rits nuwe rolprente wat hierdeur ontwikkel is en dit word ten volle deur kykNet Films befonds.

Die kykNET-kanale skop in Julie af met ʼn vol fliekprogram wat beloof om net die beste nuwe Afrikaanse inhoud (met Engelse onderskrifte) aan kykers te bied. kykNET sal in die Dinsdagaandtydgleuf vir draaiboekgedrewe inhoud kykers aan die raai hou met ʼn speurverhaal vol intrige, terwyl die eerste seisoen van die plaaslik ontwikkelde werklikheidsreeks Plaasjapie op 14 Julie begin.

fliekNET is in 2014 as ʼn opwipkanaal begin en gedurende Desember kon kykers inskakel vir ʼn keur van vollengte rolprente, dokumentêre en kortflieks wat uit kykNET se Afrikaanse rolprentargief vertoon is.

In September 2020 het dié opwipkanaal ʼn permanente plek in die DStv-stal gekry en in Desember het MultiChoice se belegging in die 50-minuutfliekprojek gevolg. Sowel die kanaal as die plaaslike rolprentbedryf het hierby gebaat.

Bo en behalwe dat hierdie kort TV-rolprente nuwe inhoud aan fliekNET verskaf het, was die werkgeleenthede wat daaruit gekom het vir talle plaaslike akteurs en vervaardigers ʼn lewensaar tydens die Covid-19-pandemie.

Oor ʼn tydperk van 18 maande het die fliekprojek meer as 80 Afrikaanse 50-minuutrolprente opgelewer wat op fliekNET uitgesaai is.

MultiChoice evalueer voortdurend sy kanaalinhoud om te verseker dat kykers vermaak van die beste gehalte kan geniet, asook om heruitsendings gedurende spitskyktyd tot ʼn minimum te beperk. Kanaalinhoud word deurlopend heroorweeg namate verbruikersbehoeftes verander. Hierdie marknavorsing kan lei tot die byvoeging van nuwe inhoud of die beëindiging van reekse en soms ook die sluiting van kanale.

MultiChoice bly verbind tot die ondersteuning en uitbou van die plaaslike rolprentbedryf en is trots op die sukses van en internasionale erkenning vir vollengte rolprente soos Barakat, Indemnity en Gaia die afgelope maande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elma ·

dis daai plek wat alles tot vervelens toe herhaal en n dik spul geld daarvoor vra!

Harley Davidson ·

Wat is Dstv dit klink na ‘n luukse en wat kos dit?

piet ·

Ek is besig om die boek “Hans steek die Rubicon oor” te lees. Heel prettig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.