Nuwe gesig op ‘Groot Ontbyt’ sal sorg vir nóg lekkerder wakkerword

Pierre Breytenbach sluit binnekort by “Die Groot Ontbyt”-span as aanbieder aan. (Foto: JislaaikJA Photography)

‘Modimole, Modimole, jy’s ingeskakel op Die Groot Ontbyt.’ Nee, Pierre, dis ‘goeie môre’!

Ja-nee kyk, as jou oggend eers so grappig begin, kan jy maar net weet die res van die dag sal ook op ʼn goeie voet verloop en dit is die plan met Pierre Breytenbach wat eersdaags by Die Groot Ontbyt-span as mede-aanbieder van die gewilde kykNET-oggendprogram sal aansluit.

Breytenbach is geen vreemde gesig en persoonlikheid vir die Suid-Afrikaanse kykers nie. Van sepies, aktualiteitsprogramme tot advertensieveldtogte geweef met kwinkslae en woordspeling is hy bedrywig as akteur, stemkunstenaar, skrywer, komediant, seremoniemeester, aanbieder, natuurliefhebber en avontuur-motorfietsryer.

Hy is in Bloemfontein gebore en het drama aan die Universiteit van Pretoria (UP) gestudeer. In die tussentyd het hy al ʼn Suid-Afrikaanse Film‑ en Televisie-toekenning (SAFTA) vir sy werk as komediant in Proesstraat ingepalm en ʼn SAFTA-nominasie vir sy teaterwerk in Marilyn Live gekry. Hy en sy vrou, Anzel, twee dogters en seun, is tans in Pretoria woonagtig.

Breytenbach spog met hoof- en ondersteuningsrolle in meer as twintig verskillende sepies en realiteitsprogramme – wat begin het met Generations en Egoli, tot meer onlangs in Getroud met Rugby. Hy is te sien en te hoor in nege plaaslike rolprente, 17 teaterproduksies, en verskyn in die laaste 12 jaar in 14 advertensieveldtogte – van “I love it when you talk foreign” tot die meer onlangse “I do, in Ad-do” van die vakansiebesprekingsplatform LekkeSlaap.

Oor sy passie vir die kassie het hy die volgende te sê: “Die kassie is iets wat deel is van my. Ek kan nie mooi teken of moeilike somme maak nie, maar ek is bekkig, kreatief en nuuskierig. Stories is my ding. Om dit te vertel, te gaan soek, oop te krap. Die jaar wat televisie in Suid-Afrika begin het, is ek ook gebore; ʼn mens kan dus maar eintlik sê die kassie het my gekies, nie andersom nie.”

Met Pierre Breytenbach as deel van “Die Groot Ontbyt” gaan kykers met pret wakker word. (Foto: JislaaikJA Photography)

Breytenbach is self opgewonde oor die nuwe vooruitsig, en sê dis vir hom ʼn heerlike geleentheid, maar ook ’n massiewe uitdaging.

“Ek geniet dit om in die oggend mense wakker te kuier en positief te wees. Dit is bitter maklik om negatief of afbrekend te wees en ons maak soms daai fout. Ek ook. Dis maar menslik. Tog is die energie en stukrag van ’n optimistiese benadering onomkeerbaar en onmiskenbaar.

Die Groot Ontbyt is ’n platform waar ek dit kan toepas en uitleef, meer mense bereik, en ook meer leer. Oor alles. Daar is soveel in die wêreld wat mens kan leer as jy net bereid is om jou horisonne wyer te trek. Wees leerbaar. Wees oop en ontvanklik. Wees ingelig, al is jy ’n middeljarige potjierol met ’n grys baard en ’n skewe tand, soos ek.”

Pierre Breytenbach is self opgewonde oor die nuwe vooruitsig. (Foto: JislaaikJA Photography)

Hy sê verder sien hy daarna uit om met die aanbieder en nuusleser Elsa Esterhuizen te werk.

“Sy is ’n standvastige rots in die potensiële chaos wat ’n regstreekse uitsending soms kan bring. Haar kalmte, en beredenerende benadering tot nuus en aktualiteit, is vir my ’n absolute voorbeeld van ’n professionele uitsaaier. Ingelig en betroubaar, dog menslik en toeganklik.

“Dit gaan wel ʼn uitdaging wees om op Johrné [van Huyssteen] se stoel te sit. Hy is waarlik een van die skerpsinnigste mense wat ek ken. Hy gooi ‘n reuse-skaduwee oor Die Groot Ontbyt. Die kykers is ook lief vir hom. Daar’s ’n dinamika wat ontwikkel het oor die afgelope sewe jaar wat ek nie maklik sal kan naboots nie, maar dit is ook goed so. Elke aanbieder is uniek en elkeen het sy eie benadering wat wonderlik is.”

Alhoewel een van sy groot vrese die gebruik van die iPad is, of soos hy dit noem, “masjienkie”, vertrou die span dat hierdie ʼn onvergeetlike nuwe avontuur vir Breytenbach gaan wees.

Die Groot-span is self baie opgewonde om voortaan nie net saam met duisende kykers wakker te word nie, maar ook nou saam met Breytenbach, sy energie en passie vir die lewe en die kassie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Linda ·

Ek het nie Kyknet of DSTv nie, maar die Pierre Breytenbach is een uitstekende keuse. Hy was so goed saam Casper de Vries in sy kort komedie sketse en Sixpens Volschenk wat vrou gesoek het in die skets oor Boer Soek ‘n Vou was briljant!! Oor die vorige aanbieder kan ek nie ‘n opinie gee nie, want elke keer wat hy in enige program of iets verskyn het, het ek die kanaal verander. Hy was baie dweperig en kruiperig en altyd eerste om op enige band wagon te spring sou enige sanger of sangeres dit durf waag om ‘n opinie te hê ander as wat die “Hoofstroom” van hulle verwag.

Chantel ·

Fantastiese nuus. Die man is bitter snaaks. Ek geniet hom

AmY ·

Kan nie wag nie. Groot Ontbyt is my gunsteling ontbytprogram en Pierre Breytenbach is uitstekend. Hy was al goed gewees op Dagbreek destyds.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.