ʼn Splinternuwe gesin wys vanaf eerskomende Vrydag gesig in die gewilde SABC2-sepie 7de Laan.
Dié tipiese hardwerkende, eerlike middelklasgesin van Groblersdal is ʼn gesin by wie talle Suid-Afrikaners aanklank sal vind.
Die Visagies word vertolk deur Hannelie Warren, onder meer bekend vir haar rol as Ilse Ferreira in Binnelanders, Zak Hendrikz, Liezel de Kock en Daniel Coetzee.
Hendrikz is ook geen vreemdeling op ʼn sepiestel nie en het voorheen in Binnelanders in die rol van Eben Nel en in Getroud met rugby as die skobbejak JJ Papenfus verskyn.
Hendrikz vertolk die rol van Werner Visagie. Werner is Tanya Visagie (De Kock) se man, Uys (Coetzee) se pa en Augusta (Warren) se seun.
Die Visagies is oor die algemeen gelukkige mense wat die waarde van harde werk ken. Dié gesin het ʼn enigmatiese en lewenskragtige energie, maar soos enige ander gesin het hulle al laagtepunte beleef en weet dat hulle sterk gesinsband hulle deur die storms van die lewe kan kry.
Werner is die seun van ʼn pluimveeboer en het ʼn sterk werksetiek. Hy is die jongste van vier broers en is gek oor sy ma, Augusta. Werner het in sy vroeë 20’s Tanya se voete onder haar uitgeslaan met sy sjarme en hulle seun, Uys, is buite die eg verwek.
Nadat hulle die familieplaas verloor het toe sy pa dood is, het Werner ʼn suksesvolle onderneming begin, maar nog ʼn terugslag beleef toe ʼn besering hom onbevoeg gelaat het om sy onderneming te bestuur.
Tanya het hom verpleeg en nou verrig hy los takies. Werner besef die gesin kan nie so aangaan nie en daarom verhuis hulle na Hillside toe. Hulle sien uit daarna om die nuus van hulle verhuising aan Uys, wat naby Hillside studeer, mee te deel.
Werner bewonder Chris Welman (David Rees) vir wat hy doen vir sy familie.
Hendrikz maak sy debuut in 7de Laan op Vrydag 7 Januarie, terwyl Warren vanaf 2 Februarie op die kassie as Augusta Visagie te sien sal wees.
7de Laan word elke weeksaand om 18:00 op SABC2 uitgesaai.
Kan nie wag nie!
Gaan interessant wees om hierdie gesin te leer ken.
Omtrent tyd vir ‘n nuwe storielyn. Sien uit na die nuwe gesigte.