Nuwe ‘GROOTplaas’-aanbieder passievol oor boere, stories

Mia Slabbert sal in April die leisels as aanbieder van GROOTplaas oorneem. (Foto: Jislaaik JA! Photography)

Mia Slabbert sal in April die leisels as aanbieder van GROOTplaas oorneem.

Dit is die landbouprogram wat voor Die GROOT Ontbyt op kykNET kanaal 144 uitgesaai word. Slabbert sal eersdaags ook haar verskyning op Die GROOT Ontbyt maak wat daagliks na GROOTplaas in die kykNET-programskedule vervat word.

Dit kom na die nuus vroeër die maand dat Elsa Esterhuizen dié unieke radio-en-televisieprogram se bekende geel bank ná sewe jaar vaarwel roep. Sy sal tot einde Maart deel van Die GROOT Ontbyt bly, waarna Slabbert die aanbiedersrol sal inneem.

“In al my jare se ondervinding is daar iets van om stories op die televisie te vertel wat net nog nooit sy greep van my losgemaak het nie. Dit gee vir ʼn mens die geleentheid om jou opwinding en passie en inligting gelyktydig en direk in iemand se sitkamer en lewe oor te dra. Dit bly ʼn voorreg om in die verband deel van gesinne se lewens te wees,” vertel Slabbert.

Oor GROOTplaas sê sy: “Boerdery raak ons almal en is ʼn reusebousteen van die land se ekonomie. Die eietydse boer moet nie net oor kennis van vee- en landboukunde en tegnologie beskik nie, maar moet in vandag se tyd ook ʼn politikus, bestuurder, ekonoom en uitmuntende besigheidsman wees wat kan netwerk en opstaan vir sy regte.

“Ek sien daarna uit om met ʼn vars aanslag ‘n platform te skep waar boerdery absoluut in die kollig is. Ons elkeen moet snags dankie sê vir ʼn boer en in dié rol hoop ek om my dank op ʼn baie spesiale en besonderse manier oor te dra.”

Slabbert is ʼn gesoute joernalis, en het haar loopbaan by Beeld begin waar sy aktualiteit-etiket as ʼn misdaadverslaggewer onder die knie gekry het. Daarna het sy koerantwese vir die televisiemedium verruil en saam met onder meer Freek Robinson eNuus op kykNET begin. Slabbert het vir sowat vier jaar as veldjoernalis gewerk waar sy aktief deel van die satellietspan in Pretoria was. Hier het sy, buiten haar joernalistieke vernuf en inhoudsbydrae, ook multimedia, redaksionele take, klankopnames, onderhoude en ateljeewerk behartig.

Sy is in 2010 deur die Nasionale Persklub as kategoriewenner aangewys. Slabbert het haar BA-graad in tale aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en na die geboorte van haar eerste seun het sy die lang ure vir ʼn pos by GROOTfm verruil om hier as joernalis te werk. In hierdie tyd was sy een van die enkele joernaliste wat direk vanuit die Pretoriase hooggeregshof oor die Oscar Pistorius-saak verslag gedoen het.

Sy was ook in die begin jare van Die GROOT Ontbyt deel van die span. Na die geboorte van haar tweede seun het Mia die wêreld van liefdadigheid ingestap en in die middestad van Pretoria gewerk. Sy het na haar welwillendheidswerk by die Solidariteit Beweging aangesluit en ook ʼn YouTube-kanaal, “Op Reis Saam Met Mia”, begin waar sy aktuele, sosiale en regsuitsprake met die publiek gedeel het.

“Haar persoonlike aanslag, opregtheid en aansteeklike opgewondenheid verseker dat die mense waarmee sy onderhoude doen op hulle beste voet is en hulle egte stories kan vertel,” het Sonet Stofberg, skakelbeampte van Die GROOT Ontbyt, gesê.

“Slabbert gaan GROOTplaas opkikker en met haar eie, vars benadering dit ʼn tuiste vir boere maak. Ons kykers en span sien daarna uit om elke oggend vars te begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miena

Welkom Mia. Sterkte vir jou.
Elsa – Gaan met jou goed verder in dit wat jy aanpak.

AmY

Baie welkom by die GROOT ONTBYT-span, Mia.