Nuwe hoof aan stuur by OnseTV-kanaal

Etienne Goliath is die nuwe uitvoerende hoof van OnseTV wat fokus op inhoud aan die Afrikaanse bruin gemeenskap. (Foto: Verskaf)

Etienne Goliath is pas as die nuwe uitvoerende hoof van OnseTV aangestel nadat hy reeds die laaste jaar aan stuur van sake by dié TV-kanaal was.

OnseTV is ʼn TV-kanaal wat hom daarop toespits om inhoud aan die bruin gemeenskap te lewer. Dit saai op kanaal 462 op die StarSat-dekodeerder uit en het reeds in September verlede jaar sy derde verjaardag gevier.

Goliath, ʼn Kapenaar in murg en been, se droom is om veral die gemeenskap van Mitchells Plain by die kanaal en sy inhoud te betrek.

“Een aand by ʼn konsert het ek die Woord gekry dat ek ʼn platform vir my mense moet skep. Van daardie aand af het ek spesifiek gefokus om my mense eerste te stel met drama’s en musiek. Dit was ses jaar gelede.

“Ek het met die bestuur van OnseTV kontak gemaak en dis toe alles begin het op Februarie 2020 om presies te wees,” vertel Goliath.

OnseTV kon nie vir ʼn beter leier gevra het nie. Volgens OnseTV se bestuurspan is Goliath nie net hardwerkend, lojaal en stel hy sy gemeenskap eerste nie, maar hy is ook nederig en staan altyd reg om elke persoon wat by OnseTV betrokke wil raak, betrokke te maak.

“Ek is dankbaar vir hierdie geleentheid want hier kan ek sien dat my mense se stories vertel word, net soos wat onse mense onse stories kan vertel,” sê Goliath.

“Dit is tyd dat ons ons verhaal uit ons perspektief vertel. Ons het nou die stem, en die voertuig om dit te kan doen. Ons is mense wat lief is vir Afrikaans, ons is mense met ʼn hart, met ʼn passie en ons is die skeppers van die taal.”

Goliath sê OnseTV wil mettertyd alle bruin Afrikaanse gemeenskappe bereik van Kaapstad tot in Windhoek met die kanaal se inhoud. “Baie mense het al lank gevra vir Coloured TV – Coloured TV is nou hier!

“Ons wil hê OnseTV moet die broeikas van meningvormers, video-makers en kunstenaars wees,” voeg hy by.

Die kanaal wys die pragtige diversiteit wat binne hierdie gemeenskap heers en wil dit graag op televisie tot sy volle reg te laat kom. OnseTV glo dat alle groepe binne die bruin gemeenskap ʼn reg tot ʼn stem het veral op televisie, iets wat dié gemeenskap nog nooit van tevore gehad het nie.

OnseTV is ʼn tuiste vir die bruin gemeenskap om sy kultuur en taal voluit uit te leef en sodoende kulturele gapings te oorbrug. Daar is geen twyfel oor die ongekende talent wat teenwoordig is in die bruin gemeenskap nie. Dié opwindende kanaal gaan vêr om die ryk erfenis van Suid-Afrikaanse “bruin mense” te vier deur die lewende medium van die Afrikaanse taal.

StarSat, die dekodeerder waarop OnseTV uitsaai, is ʼn toonaangewende satellietdiensverskaffer in Suid-Afrika en word verteenwoordig deur StarTimes in vele Afrika-lande. StarTimes bedryf self hulle onderneming in 30 daarvan, waaronder ook Suid-Afrika. Die groep se Afrika-subskripsiegetal is digby 8 miljoen.

Kyk gerus uit vir OnseTV, en maak met Goliath kontak as jy deel van dié kanaal wil word.

“OnseTV se leuse is nie verniet ‘vir onse mense, deur onse mense’ nie, want dit presies wat hierdie kanaal doen. Ons maak elkeen deel van die TV-geleentheid en gaan nog hoë hoogtes bereik. Hou OnseTV dop,” het Goliath afgesluit.

Besoek OnseTV se webwerf, Facebook, Instagram of YouTube-kanaal vir meer inligting oor die kanaal, of stuur ʼn e-pos aan Goliath by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hilda

Baie geluk Etienne! Mag jy hoë hoogtes bereik! Ek is trots en dankbaar om te sê dat ek hierdie man ken!!!!

Boerkind

Onse TV… gaan seker ‘n lekker tyd het….

Frieda

Mooi so Etienne !!

Andrew

Ek dog dit is wat kyknet reeds doen.

andre

Afrikaans is baie se moedertaal. Hou ons taal lewendig