Nuwe hoofstuk vir ‘Game of Thrones’-aanhangers

‘n Skermskoot van HBO se aankondiging oor die nuwe ‘Game of Thrones’ opvolgreeks met die naam ‘House of the Dragon’. Foto: HBO/Twitter.com

Die televisiekanaal HBO het bevestig aanhangers van die bekroonde Game of Thrones-reeks kan binnekort uitsien na ʼn opvolgreeks van tien episodes oor die fantasiewêreld van Westeros.

Dié nuwe reeks, House of the Dragon, speel 300 jaar voor die gebeure van die oorspronklike televisiereeks af en vertel die verhaal van die Targaryen-familie. Die reeks spog ook reeds met die subtitel Fire Will Reign en is geskoei op die fantasieskrywer George RR Martin se jongste boek Fire and Blood, wat die Targaryen-familie se verhaal in Westeros vertel.

Volgens CBS News het Casey Bloys, hoof van HBO se programme, Dinsdag by die aankondiging gesê Ryan Condal sal die skrywer van die reeks wees. Martin, wat die boeke geskryf het waarop die Game of Thrones-reeks gegrond is, sal ʼn uitvoerende vervaardiger van die reeks wees.

Miguel Sapochnik, wat ʼn Emmy-prys vir sy regie van die episode “Battle of the Bastards” ontvang het, sal een van die hoofvervaardigers van die nuwe reeks wees. Hy sal ook die regie van die eerste episode behartig. Vince Gerardis sal by die Sapochnik, Condal en Martin as ʼn uitvoerende vervaardiger aansluit.

“Die Game of Thrones-heelal is so ryk aan verhale. Ons sien daarna uit om die oorsprong van die huis van Targaryen en die ontstaansdae van Westeros saam met Miguel, Ryan en George te ondersoek,” het Bloys gesê.

Sapochnik het ʼn nuwe ooreenkoms met die kanaal gesluit vir die ontwikkeling en vervaardiging vir inhoud vir HBO en HBO Max. House of the Dragon is een van die eerste van hierdie projekte wat nou van stapel gestuur is.

Die aankondiging omtrent die nuwe reeks het kort op die hakke gevolg van bewerings dat HBO ʼn ander opvolgreeks met Naomi Watts as een van die sterre gekanselleer het. Die reeks het nog nie ʼn amptelike titel gehad nie, maar sou die verhaal van Age of Heroes volg wat handel oor die eerste oorlog tussen die mense en die White Walkers in die wêreld van Westeros, duisende jare voor die gebeure van Game of Thrones afspeel.

Game of Thrones het vanjaar ʼn rekordgetal van 32 benoemings by die 71ste jaarlikse Emmy-toekenningsgeleentheid ontvang. Die fantasiereeks is as die beste dramareeks van die jaar bekroon te midde van hewige kritiek van kenners sowel as aanhangers oor dié reeks se agste en laaste seisoen.

Die akteur Peter Dinklage, wat die rol van Tyrion Lannister van die Lannister-familie in Game of Thrones vertolk het, is ook met sy vierde Emmy as beste byspeler in ʼn dramareeks vereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Klok ·

Die hele reeks boeke/verhale van Westeros ens lyk vir my alte veel na ‘n vermitologisering van die geskiedenis van die Britse eilande.

Lekker kykstof, pragtige natuur tonele , baie aksie, skouspelagtig. Ek is net bly dat ek nie in daardie tyd gelewe het nie. Gemeiddelde lewensverwagting moes baie kort gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.