Nuwe kykNET-komedie: Wees só deel van die aksie

Nuwe kykNET-komedie: Wees só deel van die aksie (Foto: kykNET)

Die verfilming van Die kasteel, ʼn splinternuwe “onortodokse komedie” op kykNET, het onlangs begin en word in Januarie op die kassie uitgesaai.

Die kasteel vertel die storie van ʼn gesiene egpaar van Waterkloof in Pretoria. Eckard (Hannes Muller), ʼn belegger, en die eksskoonheidskoningin Tina-Marie (Dorette Potgieter) gaan deur ’n finansiële verknorsing en besluit om hul “kasteel” in Waterkloof te omskep in ’n boetiekhotel.

Michellay (Cintaine Schutte), die egpaar se hip dogter, glo vas sy is die volgende Instagram-koningin met ʼn aanhang van miljoene.

Wilson (Solomon Cupido) is die lojale tuinier en Dube (Pulani Sekepe) is die reguit, vol nonsens, skerpsinnige huishulp waarsonder die De Wet’s nié kan funksioneer nie.

Vier gaskunstenaars maak in elke episode ʼn verskyning. Pierre van Pletzen, Josh Rous en André Odendaal is die regisseurs. Die kasteel bestaan uit 26 episodes.

Die reeks word voor ’n gehoor verfilm en die publiek kry die geleentheid om aan die aksie deel te neem. Die publiek kry nog op 4, 11, 18 en 25 November en op 2, 9 en 16 Desember kans om die joligheid mee te maak. Indien jy verkies om in die nuwe jaar aan die feestelikheid deel te neem, kan jy nog op 17 en 23 Januarie deel van die gehoor wees. Die verfilming vind plaas by die Sasani Studios in Johannesburg. Indien jy belangstel, stuur jou naam, van en voorkeurdatum na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.