Nuwe ontbytprogram vir klein, groot sakeondernemings

Rozanne McKenzie is die aanbieder van ‘Besigheid wat saak maak’. (Foto: Verskaf)

Besigheid wat saak maak is ‘n splinternuwe program op die leefstylkanaal VIA (DStv-kanaal 147) waarin daar gekyk word na die sakebedryf as die hartklop van die moderne samelewing – op alle vlakke.

Die projek is die geesteskind van dr. Christo van der Westhuizen, besturende direkteur van die BRAND et al advertensie-agentskap.

Volgens Van der Westhuizen fokus dié nuwe program op presies wat die naam sê. “Ons teiken alle sake in alle sektore, klein of groot, dit maak nie saak wat dit is nie en fokus veral op sakeaspekte van maatskaplike belang. Voorts wys ons ook die positiewe kant van Suid-Afrikaanse ondernemings, wat veral in die hedendaagse, moeilike ekonomiese tye van kardinale belang is.”

Die program begin uitsaai te midde van die wêreldwye koronavirus- (Covid-19) pandemie, wat ʼn baie groot impak op sakeondernemings het. “Ons is redelik gekortwiek deur die koronavirus en tans word meeste van die werk in die ateljee gedoen. Maar namate dinge weer normaliseer, sal ons ter plaatse begin skiet,” sê Van der Westhuizen.

Mart Willemse, vervaardiger van Besigheid wat saak maak, sê die program bied sake-ondernemings die geleentheid om meer oor hulle produkte en dienste te vertel.

“Dit gee verbruikers die geleentheid om uit te vind wat daar buite beskikbaar is, terwyl hulle die persoonlikhede agter die ondernemings kan ontmoet – iets wat in die moderne wêreld dikwels verlore gaan. Immers bly ʼn sakeonderneming steeds mense wat produkte en dienste by ander mense koop.”

Izelle Venter, VIA se kanaalhoof, sê sy is opgewonde oor die geleentheid om saam met die Besigheid wat saak maak-span te werk.

Anton Schmidt is die aanbieder van ‘Besigheid wat saak maak’. (Foto: Verskaf)

“Van nou af gaan daar op Saterdae om 08:30 ʼn ontbytprogram in samewerking met Besigheid wat saak maak wees. Die idee is om interessante stories oor sakeondernemings te vertel en van mense wat elke dag hule geld verdien op ʼn manier waarvan ons moet weet.”

Die aanbieders van die program is Rozanne McKenzie, bekende nuusleser en televisie- en radioaanbieder, en akteur en radiopersoonlikheid Anton Schmidt.

“Die inhoud van die program is vol waardevolle en insiggewende inligting. Dit gee ʼn mens hoop oor hoe ons eintlik die ekonomie aan die lewe kan hou deur klein en selfs groot ondernemings te ondersteun. Daar is eintlik ʼn silwer randjie agter al hierdie donker wolke wat tans oor ons hang,” sê McKenzie.

Volgens Schmidt is Besigheid wat saak maak op hierdie oomblik vir hom ontsettend opwindend, nie net as ʼn aanbieder nie, maar ook as ʼn mens kyk na die ekonomiese tyd waarin ons ons tans met Covid-19 bevind.

“Dit kon amper nie op ʼn beter tyd gekom het nie. Op die oomblik is sakeondernemings in dringende nood om blootstelling te kry sodat mense weet wie hulle is, wat hulle doen en waar hulle is. En dit is inderdaad wat die program poog om te doen.”

Volgens Van der Westhuizen is Besigheid wat saak maak en die program Stories wat saak maak met ʼn naelstring aan mekaar verbind en sal ʼn vrylike kruisbestuiwing tussen die twee programme plaasvind.

“Met ander woorde, die onderskeie aanbieders, soos Stories wat saak maak se ankeraanbieder Coenie de Villiers, en die programinhoud sal van tyd tot tyd en waar dit sin maak wedersyds tussen die twee programme beweeg. Dit sluit in sake van gemeenskaplike belang, byvoorbeeld stories oor korporatiewe maatskaplike beleggingsinisiatiewe en die alledaagse dinge wat maatskappye in die gemeenskap doen,” sê hy.

Die mediese skema KeyHealth is die titelborg van die eerste reeks se 13 episodes. Tariewe om op die program te verskyn begin van R5 000 per minuut, wat afgesien van die Saterdagoggendprogram ook ʼn verdere drie heruitsendings in die daaropvolgende week insluit.

Ondernemings wat belangstel om op Besigheid wat saak maak te verskyn, kan ʼn versoek per e-pos stuur na [email protected] of 012 991 7810 skakel.

Besigheid wat saak maak saai Saterdae om 08:30 uit op VIA, DStv-kanaal 147 en word weeksdae herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willem ·

Dankie maar kan julle nie maandae tot vrydae nie.
Daar is net Groot ontbyt en dis rerig nie my koppie tee nie.

BoerSonderRoer ·

Dis ‘n jammerte dis op DSTV. Het hulle al weet bietjie Steve uit gesaai? Dan kan ek hulle seker ophou boikot.

Jaco ·

Behalwe vir die aanbieder, is hier ‘n klomp wit name in dié berig. So wat dan nou van regstellende aksie en BEE?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.