Nuwe SA reeks bekyk families, vriende en verlies

M-Net se nuwe dramareeks Still Breathing gaan oor vriendskap, verlies en familie. Dié eg plaaslike drama volg op die hakke van Deon Meyer se Trackers wat verlede jaar ʼn rekordgetal kykers gelok het.

“Ons wou drama terugbring na M-Net en ons wil plaaslike drama in ʼn tydgleuf plaas wat eintlik vir internasionale programme bedoel is,” sê Kaye Ann Williams, hoof van plaaslike produksies, tydens M-Net se jaarlikse kanaaltentoonstelling.

Nadat hulle gesien het hoe goed dié programskuif uitgewerk het met Trackers, is M-Net vol hoop dat hulle dieselfde reaksie met Still Breathing gaan kry.

Still Breathing is in Suid-Afrika ontwikkel en verfilm. Die Suid-Afrikaners Johnny en Tiffany Barbazano het die draaiboek geskryf en die regie en akteurs is ook vanuit Suid-Afrika. “Dit is gemaak spesifiek vir die Suid-Afrikaanse gehoor,” voeg Williams by.

Johnny en Tiffany, van die produksiemaatskappy BBZ Films, spog albei reeds met Safta-toekennings, onder meer vir beste aktrise en beste regisseur. Dié egpaar se twee seuntjies, Jesse en Jamie, maak ook ʼn verskyning in die reeks.

Tiffany vertel dat die storie vir Still Breathing bymekaargekom het toe sy haar suster sowat twee jaar gelede aan die dood afgestaan het.

Die rolverdeling van Still Breathing tydens ‘n mediakonferensie (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

“Die dinamika tussen vriende het nog altyd vir my en Johnny geboei – dit kom van ons universiteitsdae af. Vriende, wat dit beteken om vriende te wees, en wanneer jou vriende jou familie word – dit het ons geïnteresseer. So, ons het al baie aan daardie tema gedink voordat ons Still Breathing begin het, en dit is waaroor die reeks gaan.”

Haar suster se dood was vir haar ʼn groot leerskool om te besef wat verlies behels omdat sy deur die proses moes gaan om iemand te verloor wat ongelooflik na aan haar was.

“Aan die einde is die enigste ding wat ons oorhet dat ons nog steeds kan asemhaal. Die titel, Still Breathing, beteken vir my hoop. Verlies is universeel, almal gaan daardeur die een of ander tyd – of ons daarvan hou of nie.

“En ek dink dis waaroor alles gaan: dat jy steeds asemhaal nadat jy daardeur is, en ás jy nog kan asemhaal, is jy die gelukkige een,” sê sy.

Tiffany sê omdat dit so ʼn emosionele reeks was vir haar en Johnny om te skryf, het hulle dit baie belangrik geag om die regte mense vir elke rol te kry.

Akteurs soos Kat Liquorish, Lorcia Kumalo, Shannon Esra, Ty Keogh en Jane de Wet is almal deel van dié reeks.

Still Breathing begin vanaand op 27 Februarie om 19:00 op M-Net, kanaal 101.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.