Nuwe seisoen vir ‘Republiek van Zoid Afrika’ om die draai

Karen Zoid se geselsprogram, Die Republiek van Zoid Afrika, is binnekort terug op die kassie (Foto: Verskaf)

Karen Zoid se geselsprogram, Die Republiek van Zoid Afrika, is binnekort terug op die kassie (Foto: Verskaf)

Die vierde seisoen van die gewilde kykNET-geselsprogram, Republiek van Zoid Afrika, is van 11 Oktober in ʼn nuwe tydgleuf op die kassie te sien.

Dié program sal voortaan op Dinsdae om 20:30, en nie meer Donderdae nie, gebeeldsaai word.

Hoewel Karen Zoid net soos in vorige seisoene met van haar gunsteling-dromers en -denkers gesels, het die nuwe seisoen ook ʼn paar verrassings waaroor die aap nog nie uit die mou gelaat kan word nie.

Zoid het vertel selfs ná drie suksesvolle seisoene bly elke storie wat deur haar gaste vertel word, haar inspireer. “Ek kan nie help om ná elke episode deur my gaste geïnspireer te voel nie, want elke gesprek is belaai met lewenswyshede en kwinkslae,” het sy gesê.

Geliefde musiektreffers word vir dié vierde seisoen weer van die rak gehaal en verwerk vir die program, en Zoid meen dié reeks se verwerkings het nog méér van ’n rock-aanslag.

Die klankbaan van die derde seisoen het pas goue status bereik.

Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale by M-Net, sê die vierde seisoen van die reeks volg ná oorweldigende aanvraag deur die publiek.

“Karen is ’n fenomeen wat musiek as haar taal gebruik om ’n positiewe boodskap tuis te bring en ’n verskil te maak. Die sukses van die albums, wat bestaan uit ’n verskeidenheid van kunstenaars, is ’n bewys dat Suid-Afrikaners belangstel in samewerking. Daarom bedank ons die president van die Republiek Zoid Afrika vir haar visie en insig; en vir die stories en liedjies wat sy elke week met ons deel,” het Meiring gesê.

Kykers kan ook weer uitsien na die skreeusnaakse insetsels met Annemarie Ferreira (boereraat vir bands) en Marinda Senekal, die panfluitsensasie. Boonop gaan die komiese sketse, van al vier seisoene, later vanjaar in DVD-formaat saamgevat word.

Republiek van Zoid Afrika het ook reeds verskeie toekennings ontvang, onder meer ’n Safta vir die beste geselsprogram, terwyl dit ook vanjaar twee Huisgenoot Tempo-pryse opgeraap het.

Republiek van Zoid Afrika word van 11 Oktober op Dinsdae, 20:30, op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.