Nuwe sepie op kykNET & kie

Foto: kyknet.dstv.com

Foto: kyknet.dstv.com

M-Net se Afrikaanse kanale sal Maandag, 16 November ʼn splinternuwe sepie begin uitsaai.  Suidooster is die eerste sepie wat in die Wes-Kaap afspeel en sal op kykNET & Kie (DStv kanaal 145) uitgesaai word.

M-Net het die afgelope paar jaar hulle belegging in plaaslike inhoud stadig maar seker verhoog en vervaardig nou programme in verskeie inheemse tale vir kykers.  Hierdie wêreldklas, plaaslik vervaardigde programme is almal op die M-Net kanale beskikbaar, eksklusief vir DStv kliënte.

Die opwindende nuwe sepie, Suidooster, bring die talente van top Suid-Afrikaanse sterre bymekaar, terwyl dit ook vir plaaslike akteurs en tegnici ʼn waardevolle platform sal bied om hulle talente ten toon te stel.  Dit word verwag dat die nuwe sepie ʼn bydrae sal maak tot die skepping van meer werksgeleenthede in die televisie- en vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika.

Binnelanders en Villa Rosa, ons twee mees gewilde kykNET-sepies, speel onderskeidelik in Pretoria en Bloemfontein af – dit is nou tyd dat ons ook in die Wes-Kaap ʼn sepie kry,” het Karen Meiring, direkteur van Afrikaanse kanale by M-Net, oor die ontwikkeling van die nuwe sepie gesê. “Suidooster bied ons hierdie geleentheid, en gaan net nog meer boeiende stories vir ons kykers tot gevolg hê.  Al is die Wes-Kaap Suidooster se tuiste, is die storielyne universeel en ons sien uit daarna om dit met Afrikaanse kykers dwarsoor Suid-Afrika te deel.”

Suidooster word vir kykNET deur Gambit Films vervaardig, wat M-Net se toewyding tot die integrasie van die TV-bedryf deur middel van die bevordering en ondersteuning van nuwe en talentvolle vervaardigers, bevestig. Gambit het homself al herhaaldelik bewys as ʼn reus in die bedryf, met spesialisvaardighede in draaiboekontwikkeling, skryf en vervaardiging in die drama genre. Hulle kortfilm, Nommer 37, het groot opslae by die kykNET Silwerskermfees gemaak. Hulle was ook ʼn integrale deel in die vervaardiging van die 20 Ons Stories-films wat in 2014 op kykNET & Kie uitgesaai is.

“Dit is ʼn groot voorreg om ʼn splinternuwe sepie vir kykNET & Kie aan te pak,” het Travis Taute, direkteur by Gambit, gesê. “kykNET het oor die afgelope paar jaar ʼn belangrike deel in ons ontwikkeling gespeel deur vir ons die waardevolle geleenthede te gee om ons werk ten toon te stel. Al daardie stappe het ons tot op hierdie punt gebring, en ons is vasbeslote om aan kykNET te bewys dat hulle vertroue in ons nie verniet is nie.  Ons fokus daarop om seker te maak dat Suidooster ‘n program op die skedule is wat nie gemis kan word nie.”

Meiring het Homebrew Films ook vir hulle mentorskap van die Gambit-span geprys. “kykNET is verheug oor hierdie vennootskap – wat ons al vir verskeie jare ondersteun en aanmoedig. Ons is passievol daaroor om kapasiteit in die bedryf te ontwikkel en die kykNET Silwerskermfees wat jaarliks in Augustus in die Kaap plaasvind, speel ʼn groot rol hierin,” het sy gesê.

DStv-kliënte kan Suidooster elke Maandag, Dinsdag en Woensdag vanaf 16 November in die 20:00-tydgleuf op kykNET & Kie (DStv kanaal 145) kyk. Dié kanaal is beskikbaar in die DStv-familiepakket.

Vir meer inligting oor kykNET kanale en programme, besoek www.kykNET.tv.  Vir meer inligting oor DStv pakkette, besoek DStv.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Afrikaans gaan ook seker weer goed “ge-mix” wees soos dit ‘n sepie betaam en dan ook maak dat die jeug sowel as volwassenes dan so “communicate” met mekaar.
Ek het gelukkig die afgeroomde TV kanale en sal dit dan “pass”.

Sylvia Kruger ·

Baie bly oor die nuwe sepie
Kan ek verneem of ons kan klaarmaak vir n omnibus want dit val darem reg in ons 144 kanaal
of ‘n her uitsending later die aand?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.