Nuwe stroomdiens bied kykgenot in Afrikaans wêreldwyd

Afrikaanssprekendes wêreldwyd kan nou eerstehands na gehalte-programme in hul moedertaal kyk deur gebruik te maak van die splinternuwe internetstroomdiens, MYtv Online.

Intekenaars van dié stroomdiens sal gratis en onbeperkte toegang geniet tot ʼn legio Afrikaans-programme soos VASKAP, Kos is oppie tafel, Karoolus & Lente en verskeie ander leefstyl- en kinderprogramme asook Christelike programme.

Jaco Ferreira, hoof van MYtv Online, het gesê daar is ʼn verskuiwing in hoe mense media en vermaak gebruik.

“Met die erkenning van hierdie tendens het MYtv sy horisonne verbreed tot ʼn internetverbruikers-mediahuis met ʼn nuwe benadering tot vermaak, interaktiewe en geteikende verspreiding en vervaardiging van digitale inligting aan gefokusde teikenmarkte,” het Ferreira gesê.

“Die vlagdraer van MYtv naamlik MYtv Online, is ʼn aanlynvideo-op-aanvraag vermaakplatform in Afrikaans wat gratis beskikbaar is aan ʼn spesifieke teikenmark. Nie meer maandelikse subskripsies en gedwonge programskedules met herhalings en gunsteling-programme wat na ʼn tyd verdwyn nie.”

Volgens Ferreira is dit nie net Afrikaanssprekendes in die buiteland wat steeds in voeling wil bly met hul taal en kultuur nie, maar alle Afrikaanssprekendes, en dat nie almal die huidige betaalplatforms kan bekostig nie.

“Televisieprogramme is ʼn wonderlike manier om Afrikaans lewend te hou. Afrikaans as taal en kultuur is baie uiteenlopend en uniek en deur die huidige internetplatform poog MYtv Online om te verseker dat alle Afrikaanssprekendes toegang het tot hierdie diens. Maak nie saak waar die persoon woon nie – Kaapstad, Springbok, New York of Sandton – elkeen kan sy Afrikaanse herkoms beleef op sy eie unieke manier.”

Besoek die webwerf by www.mytv.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Gratis? Ek het ook al die woord gratis gehoor op die internet en dan uitgevind dit is alles behalwe gratis. Daar is altyd ‘n slang in die gras. Daar is ‘n rukkie gelede ‘n Christelike TV diens geloods wat almal belowe het dit is gratis en skielik is dit R144 per maand.
Ek wil dit nog sien. Hulle sê sien is glo. Die internet is alles behalwe gratis.

Sinies ·

Ek stel voor julle moet ook teen betaling privaat individue kans gee om programme te lewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.