Nuwe TV-program soek SA se ‘groenste vingers’

Die Groenste Vingers (Foto: kykNET)

kykNet se jongste kompetisieprogram, Die Groenste Vingers, is op soek na tuiniers, blommerangskikkers en plant-entoesiaste om teen mekaar mee te ding vir die groot kontantprys van R20 000.

Met verskeie uitdagings in elke episode moet twee tuiniers elk ’n unieke rangskikking ontwerp en aanmekaar sit, waarna die beoordelaars besluit watter deelnemer blom en watter deelnemer verlep. Hulle gaan kyk na ontwerp, kleur, balans en of ʼn gekose tema suksesvol geïnkorporeer is.

“Dit is soos ʼn kookkompetisie, maar met blomme!” sê Philip Nolte, die skepper van Die Groenste Vingers.

Hy het tydens die eerste inperking van 2020 met die idee vorendag gekom om blommerangskikkings die held van ʼn televisieprogram te maak.

Franz Gräbe, van Franz Gräbe Flower Couture, is een van die beoordelaars. Hy het al blommerangskikkings vir Oprah Winfrey opgetower en modelle het in sy “blom-couture-uitrustings” op die loopplank gepronk. Van die bekendes wat Gräbe se skeppings gedra het, is Judith Sephuma, Minnie Dlamini en Brümilda van Rensburg.

Edrien Erasmus (Foto: Facebook)

Die aktrise en sanger Edrien Erasmus is die aanbieder van Die Groentes Vingers.

“Ek is van jongs af baie lief vir tuinmaak – ek het ná universiteit in ’n blommewinkel gewerk en het selfs my eie blommewinkel gehad. My ma het die mooiste tuin, en sy en my pa het ʼn kwekery in Botswana,” sê sy.

Erasmus sê sy self het nie soseer groen vingers nie, maar dat sy ʼn blommekind is met ʼn groot liefde vir die natuur.

Die vervaardiger van Die Groenste Vingers, Lyall Ramsden, sê dié program is uniek en ʼn eerste van sy soort in Suid-Afrika. Hy sien ook baie daarna uit om te sien wie almal vir die kompetisie inskryf.

Inskrywings is nou oop vir Die Groenste Vingers en sluit 12 Februarie. Klik hier om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.