Nuwe TV-rolprente skep inhoud, werk vir plaaslike kunstenaars

Kate Roothman en Franci Swanepoel in ‘n toneel uit ‘Fladder’. (Foto: kykNET)

Vanjaar se kykNET Storiefilms-projek se televisierolprente is in die lewe geroep om nuwe en oorspronklike inhoud vir kykers te vervaardig en om werk te skep vir kunstenaars wie se dagboeke weens die Covid-19-pandemie vanjaar leeggeloop het.

“Die plaaslike vermaaklikheidsbedryf het, nes almal van ons, ʼn uitdagende jaar gehad te midde van die pandemie. Daarom het dit vir ons sin gemaak dat ons deur hierdie projek soveel as moontlik kunstenaars, skrywers, akteurs en vervaardigers betrek om nuwe stories vir kykers te skep,” sê Nicola van Niekerk, senior bestuurder van teksgedrewe produksies en aktualiteit by kykNET.

“Verskeie produksiehuise is stewig in die saal om hierdie kykNET Storiefilms na die skerms te bring en het die geleentheid aangegryp om kragte saam te snoer met ander vennote om sodoende oorspronklike en eksklusiewe inhoud vir kykers te skep.”

Die kykNET Storiefilms se splinternuwe televisierolprente is elk ongeveer 50 minute lank en sal vanaf 22 Desember op die kassie begin draai. Hierdie rolprente word almal plaaslik vervaardig en bring van die land se beste akteurs in verskeie rolverdelings na die kleinskerm.

“Elkeen van hierdie rolprente het sy eie storie en rolverdeling waarin verskillende temas na vore kom,” voeg Van Niekerk by.

Fladder, die eerste kykNET Storiefilm, handel oor ʼn jong, onbelese meisie wat na ʼn afgetrede bibliotekaresse moet omsien. Wanneer Mornique vir die eerste keer aan Truida se deur klop, besef sy dat dit glad nie maklik gaan wees nie. Na aan die einde van haar lewe, besluit Truida sy wil in die biblioteek spook.

Die rolverdeling bestaan uit Franci Swanepoel, Kate Roothman en Andre Stolz. Die draaiboek is geskryf deur Kaz McFadden en André Velts is die regisseur.

Kuberliefde is die tweede kykNET Storiefilm uit die pen van Willie Esterhuizen, wat ook die regie behartig het.

Hanneke Human is in haar vyftigs en is op soek na ware liefde in die kuberruim. Sy ontmoet die droomman waarna sy gesoek het, maar haar familie en vriende hou glad nie daarvan nie en beplan ’n ingryping – want kuberliefde kom soms met ’n stewige prys.

Die rolverdeling bestaan uit Dorette Nel, Lara Lourens, Elma Potgieter, Kaz McFadden, Natania van Heerden, Hanli Rolfes en Pulani Sekepe.

Daar sal altesaam 50 nuwe televisierolprente as deel van die kykNET Storiefilms-projek geskep word wat in 2021 ook op kykNET en later ook op fliekNET te sien sal wees.

Fladder word Dinsdag 22 Desember om 20:00 uitgesaai en Kuberliefde Dinsdag 29 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.