Nuwe veldtog maan: ‘Waak teen wrede woorde’

Marijke Coetser as deel van die ‘Wraak teen wrede woorde’-veldtog.

“Daai rokkie sit te styf, jou boobs is te groot en dit lyk of jy swanger is.”

“Sy hou haarself so high and mighty, maar ek’s seker sy’s kommin in die regte lewe.”

“As ek jou ooit op straat raakloop, sal ek jou graag self met klippe wil doodgooi.”

“Jy’t nie enige talent nie, jy is waar jy is as gevolg van die kleur van jou vel.”

Sosiale media het die wêreld kleiner gemaak en mense nader aan mekaar gebring. Dit het egter die wêreld ook wreder gemaak, met mense wat dink dit is hulle reg om bekendes, én vreemdelinge, af te kraak en te verneder en selfs te verwens.

Hierbo is net ʼn paar voorbeelde van beledigings wat kykNET-persoonlikhede op sosiale media al ontvang het – en dis net die oortjies van die seekoei. Dié soort wreedheid gebeur daagliks en nie net op kykNET se sosiale platforms nie, maar oral waar mense die geleentheid het om hul sê te sê.

Die nuwe kykNET-advertensieveldtog wil die kollig plaas op dié neiging in ʼn poging om ʼn gesonder omgewing op sosialemediaplatforms te skep waar kykers hul opinie en kommentare kan deel, sonder om afbrekend te wees.

“Ons lewe in ’n tyd waarin mense agter hulle sleutelborde skuil en dinge kwytraak, maar nie die aksies van hulle dade noodwendig besef nie,” sê Leo Smit, bemarkingsbestuurder van kykNET.

“Ons kunstenaars sien hierdie kommentaar raak en woorde maak seer. Ons hoor gereeld hoe tieners en selfs volwassenes selfmoord pleeg as gevolg van aanlyn afknouery. Hierdie boelies besef nie die emosionele impak wat hulle woorde het nie. Dit is vir kykNET belangrik om ons kunstenaars te beskerm, maar ook om hulle hulp in te roep om as spreekbuise teen aanlyn afknouery op te tree.”

Die tien persoonlikhede wat in dié veldtog gebruik word, is Marijke Coetser (Getroud met rugby), Johrné van Huyssteen (Die GROOT ontbyt), Willem Botha (Kwêla), Melanie du Bois (Arendsvlei), Roberto Kyle (Arendsvlei), Jawaahier Petersen (Suidooster), Frazer Barry (Fiësta), Marlee van der Merwe (Getroud met rugby), Cindy Swanepoel (Binnelanders) en Weza Matomane (La’t wiel).

Hennie van Deventer van Clearwater, die advertensieagentskap wat vir die veldtog verantwoordelik was, sê dit was vir hulle belangrik om uit die staanspoor ’n intieme verhouding tussen die kyker en die kunstenaar te skep.

“Ons wou ’n gevoel skep dat jy alleen in ’n kamer saam met hierdie persoon sit en met hulle rou emosie gekonfronteer word. Jy kan nie wegkyk nie, hulle kyk jou reguit in die oë en daag jou uit om na hulle te luister. Die kamera kom stadig in op hulle gesigte en langs hulle op die skerm verskyn die venynige kommentaar wat hulle ontvang het.

“Wanneer ons ongemaklik naby die kunstenaar is, vra hulle dan die belangrike vraag: ‘Jy sê hierdie goed omdat jy dink jy ken my. Maar sou jy dit gesê het as ek jou geken het?’”

Die kykNET-sosialemediaplatforms is ʼn plek waar kykers lekker oor hul gunsteling-programme saamgesels.

“kykNET-kykers vertel ons deur middel van Facebook, Instagram en Twitter waarvan hulle hou en nie hou nie,” voeg Smit by.

“Ons was nog altyd oop vir kritiek ten opsigte van terugvoering oor programme – ons besef smaak verskil en ons verwelkom steeds terugvoer van ons kykers.”

Kyk hier na die advertensie van die #jydinkjykenmy veldtog:

Kyk ook uit vir die advertensies op kykNET (DStv-kanaal 144) wat op elk van die tien kykNET-persoonlikhede fokus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Androclus ·

Dis waarheid woorde dra krag. Spreuke 18:21- Die tong het mag oor dood en lewe;dié wat lief is om te praat,sal die gevolge dra. AMEN

Chris dupreez ·

Maar so onnodig. Daar is mense wat net sleg praat van ander mense. Hoekom ?

Snowball ·

Die hele vermaaklikheidsindustrie werk aan die aftakeling van ‘n Christelike waardestelsel. Elke Afrikaanse sepie het deesdae dieselfde geslag verhoudings of buite egtelike verhoudings. Ons kinders kyk hierna en word wysgemaak dit moet so wees. ‘n Bekende motor advertensie wys hoe ‘n man op ‘n uitstappie in die buitelig is saam met sy familie en suksesvol vir sy baas lieg dat hy werk. Wat leer ons die jonges wat hierna kyk? Dis ok om te lieg solank jy nie uitgevang word nie? Soos woorde mag het, so het suggestie ook ‘n invloed op jongmense en kinders. As akteurs (wat hopelik volwasse genoeg is om sinvolle kritiek en venyn van mekaar te onderskei) bekommerd is oor tieners wat selfmoord pleeg oor naarheid op sosiale media, moet hulle ewe bekommerd wees dat hulle ‘n voorbeeld help stel vir morele standaarde ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.