‘OME!’: Brendan, Janae en kie kuier laaste keer saam

Brendan en Janae. (Foto: verskaf)

Brendan Peyper kry in ʼn spesiale Op my eish!-reünie-episode, wat komende Donderdag op kykNET uitgesaai word, die geleentheid om weer die 16 vroue saam met wie hy sy liefdesreis op Op my eish! afgeskop het, in die oë te kyk. Al is Brendan se finale keuse eers Donderdagaand uitgesaai, is dié episode maande gelede reeds opgeneem.

Daar het egter al baie water in die see geloop sedert Brendan sy hart vir die blondekop Janae Stander gegee het. Kykers gaan uitvind hoe dit deesdae met Brendan en Janae gaan en of die res van die deelnemers intussen liefde elders gevind het.

Die episode sal gelei word deur Brendan se vlerksleepvriend, Jo Black, en sal al die deelnemers die kans gee om te sê wat hulle nog op die hart het.

Hoewel die meeste van die vroue tydens die verfilming van die reünie-episode aanwesig was, kon Christine nie die geleentheid bywoon nie.

Brendan moes teen die einde van sy tyd op die program tussen Rachelle, Katja en Janae kies, en hoewel hy sterk bande met beide Katja en Rachelle gesmee het, was dit Janae wat uiteindelik sy hart gewen het.

(Foto: verskaf)

“Ek voel ek het deur die Op my eish!-reis aansienlik gegroei en dele van myself ontdek. Dit was nie net ʼn reis om liefde te vind nie, maar ook ʼn reis waar ek introspeksie gedoen het en my verhouding met die Here versterk het,” sê Janae.

“Dinge het partykeer onseker gevoel en daarom was dit vir my belangrik om te bly glo aan Jesus se plan.”

Brendan sê dat hy nooit dié ervaring sal vergeet nie.

“Ek het ongelooflike mense tydens verfilming ontmoet en is opgewonde om te sien wat nog voorlê.”

  • Skakel volgende Donderdagaand om 20:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144, om die spesiale Op my eish!-reünie-episode te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.