‘OME!’: Nou is daar net vyf

Brendan en die dames tydens hul vleisverwerkingsafspraak. (Foto: verskaf)

Aan die begin van Brendan se Op my eish!-reis het hy gewonder of hy gevoelens vir iemand gaan ontwikkel, en nou is daar drie dames wat aan sy hartsnoere roer.

Vir dié drie, Janae, Rachelle en Katja, het daar ʼn lekker verrassing gewag in die jongste aflewering van kykNET se maatsoekreeks. Vir ʼn ander, Christine, was dit ongelukkig die einde van die pad.

Die episode het afgeskop met Brendan wat Jonelle, Chaunte en Christine op ʼn vleisverwerkingsuitstappie genooi het. Christine het hier en daar nog tong in die kies verwys na haar vriendin, Thelmané, wat in die vorige episode huis toe gestuur is. Trouens, sy het genoem dat sy self oorweeg om haar eie tasse te pak.

“Jy moet kies tussen ʼn vriendin en liefde,” het sy gesê, hoewel sy later geskerts het dat Brendan haar dalk nie met ʼn skerp mes moet vertrou nie.

Brendan het by al drie vroue ingeloer terwyl hulle besig was om die vleis tot biltong te verwerk. Jonelle het Brendan se flikflooiery terdeë geniet, en het in haar dagboeksessie gesê dat dit voel asof hulle baie meer spelerig met mekaar begin raak. Brendan het ook self erken dat hy Jonelle se geselskap al hoe meer begin geniet.

Ná dié vier se biltong gereed was vir die droograk, het hulle koers gekies om saam piekniek te gaan hou. Hulle het skaars gaan sit, toe vra Brendan vir Christine om alleen saam met hom eenkant te gaan sit. Sy was aanvanklik opgewonde, aangesien dit gelyk het soos haar eerste alleenafspraak met Brendan. Dié geluk was egter van korte duur toe hy besluit het om haar eerder te groet.

Christine is huis toe gestuur. (Foto: verskaf)

“Dis nou die een wat ek nie sien kom het nie,” het Christine in haar dagboeksessie gesê, “maar alles gebeur vir ʼn rede. Ek wens hom alle geluk toe en ek hoop regtig hy kry iemand.”

ʼn Trekkerrit en ʼn reuseborrel

Die volgende afspraak was ʼn trekkerrit-uitdaging wat Brendan vir Katja, Janae en Rachelle gestel het. Die drie is aanvanklik elkeen vir ʼn toetsrit gevat voordat hulle uiteindelik self agter die stuurwiel moes inskuif.

Daar is ʼn spesiale hindernisbaan vir die vroue gebou, en die een wat die baan in die kortste tydperk met die minste foute voltooi, sou op ʼn spesiale afspraak saam met Brendan gaan.

Alhoewel al drie ʼn oog op die prys gehad het, was dit Janae wat uiteindelik koning gekraai het. Dié nuus het Katja teleurgestel, maar veral onder Rachelle se vel ingeklim.

“Ek is nie ʼn slegte verloorder nie, maar hierdie een was nie lekker om te verloor nie,” het Rachelle in trane gesê.

“Ek soek net ʼn bietjie alleentyd saam met Brendan, maar dit kom net nie.”

Dié twee het later aan Chaunte en Jonelle erken dat hulle die afspraak vir mekaar gegun het, en dat dit vir hulle moeilik was om Janae saam met Brendan te sien wegstap. Chaunte het tydens dié gesprek ook ʼn geheim oor Janae verklap: sy is op pad oorsee om op seiljagte te gaan werk.

(Foto: verskaf)

Janae het egter gekies om dié nuus vir haarself te hou tydens haar en Brendan se alleentyd. Die paartjie is heerlik bederf met ʼn massering, kos en ʼn aand onder die sterre in Clarens se borrelhotel.

Wat Janae egter wel erken het in haar dagboeksessie, is dat haar planne sal verander as sy die regte man ontmoet.

Brendan het weer gebieg dat sy hart al hoe sagter begin word.

“Ek het aan die begin gedink dat ek nie gevoelens vir een van hierdie meisies gaan kry nie, maar nou het ek gevoelens vir drie.”

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.