‘OME!’ se Chaunte ‘nou sterker as ooit’

Chaunte du Bruyn. (Foto: Chaunte du Bruyn/Instagram)

Al glo Chaunte du Bruyn sy het presies geweet wat vir haar voorlê toe sy vir die maatsoekprogram Op my eish! ingeskryf het, het die verfilmingsproses en al sy uitdagings haar sterker as ooit tevore gemaak.

Dié 23-jarige blondekop het veral bekendheid verwerf met haar skerp woorde en ongenaakbare eerlikheid.

Hoewel sy vandag spyt is dat sy nie die omstandighede beter gelees het nie, is sy nie spyt oor die lewenslesse wat die program oor haar pad gestuur het nie.

Ná die program in Januarie op kykNET begin uitsaai het, het Chaunte werklik begin verstaan wat kuberboeliery is en watter impak dit op ʼn persoon se lewe kan hê.

Dié onderwerp lê haar vandag baie na aan die hart, en sy beplan om ʼn kampvegter teen kuberboeliegedrag te word.

Sy is op skool geboelie, vertel Chaunte, maar sy sukkel om dit te vergelyk met die negatiewe kommentaar wat tot dusver oor haar op sosiale media ingestroom het.

“Dit wat ek op skool moes verduur, het my voorberei op hierdie oorlog. Net so berei hierdie oorlog my voor vir die volgende een. Ná alles wat gesê is oor my op sosiale media, kan ek nie help om net meer genadig teenoor mense op te tree nie,” vertel Chaunte aan Maroela Media.

“Mense wat seer het, maak ander mense seer. Ek vat al die kommentaar maar van wie af dit kom. Mense gaan altyd iets te sê hê oor jou, maak nie saak wie jy is nie.”

Wanneer sy vandag terugdink aan die verfilming van die program verlede jaar, is sy steeds seker oor die rede waarom sy ingeskryf het: om Brendan beter te leer ken, en nie veel meer nie.

(Foto: Chaunte du Bruyn/Instagram)

“Ek was nie daar om vriendinne te maak nie, ek was daar vir Brendan. As Brendan vir my vrae gevra het, het ek dit eerlik geantwoord. Ek het bly dink aan die moontlikheid dat ons saam opeindig, en dan moet ek aan hom verduidelik waarom ek oneerlik was in die program. Dit sou mos sy vertroue breek.

“Dit is ʼn jammerte dat dit voorgekom het dat ek die ander meisies onder die bus gooi, maar daar is nooit gewys hoe Brendan die vrae gevra het waarop ek bloot geantwoord het nie.”

Sy het vermoed dat Brendan haar gaan huis toe stuur toe hy het, en sy het lank voor dit begin vermoed wie hy uiteindelik sou kies.

“Ek het hom net die beste toegewens en vir hom gebid dat hy die regte besluit sou maak. As twee mense nie ʼn konneksie het nie, is dit nie hulle skuld nie. Dit is net hoe dit uitwerk.”

Wees geduldig en vertrou op die Here

Chaunte moes in haar lewe dikwels leer hoe om geduldig in God se plan vir haar lewe te wees. Dit is immers deel van haar getuienis: Die Here se plan is nie noodwendig die mens se plan nie.

Sy onthou hoe sy as hoërskoolleerder daarvan gedroom het om aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Die kursus waarvoor sy wou inskryf het ʼn uitstekende wiskundepunt vereis, hoewel sy vandag sê dit was nooit vir haar ʼn uitdaging nie, en sy het ʼn groot liefde vir wiskunde.

(Foto: Chaunte du Bruyn/Instagram)

Toe gebeur die onverwagse. Chaunte was in ʼn motorongeluk betrokke op pad skool toe die dag waarop sy wiskunde moes skryf tydens haar eindeksamen. Al het sy nie seergekry nie, kon sy nie met rustigheid in haar hart die eksamen skryf nie en het dus nie die punt gekry waarvoor sy gehoop het nie.

Die dag wat sy uitgevind het sy het nie keuring gekry om by Tukkies te gaan studeer nie, het sy by die Here gaan pleit en gevra waarom hierdie beker by haar verby moet gaan.

“My hart was stukkend,” onthou Chaunte, wat toe besluit het om eerder ʼn gapingsjaar te vat om wiskunde oor te skryf.

“Dit was die beste besluit wat ek kon geneem het. Dit is so moeilik as 17-jarige om te besluit wat jy met jou toekoms wil doen. Daardie oorbruggingsjaar het wondere vir my gedoen.”

Sy is in 2021 sak en pak Potchefstroom toe, ure weg van haar ouerhuis in Polokwane, om ekonomie aan die Noordwes-Universiteit te studeer.

Sy het vroeër vanjaar haar graad gevang, iets waaroor sy nie uitgepraat kan raak nie. Chaunte werk vandag in Sandton en kyk met liefdevolle herinnering terug na haar studentejare.

“Ek is so lief vir my universiteit. Die Pukke het my huis geword.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.