‘Ontbytsake’-span skenk 6 700 liter sop

Ontbytsake’-span skenk 6 700 liter sop vir Mandeladag. (Foto: verskaf)

Die gewilde kykNET-oggendprogram, Ontbytsake, se harte en hande staan nie stil vir vanjaar se Mandeladag-viering nie.

Dié dinamiese Ontbytsake-span, wat uit Dawie Roodt (ekonoom), Leon Gropp (musikant), Eloise Cupido (aktrise), Corli Botha (sjef) en ’n produksiespan bestaan, neem vanjaar deel aan Chefs with Compassion se jaarlikse sop-uitdaging wat op 18 Julie plaasvind.

Chefs with Compassion is die grootste jaarlikse projek waar sjefs en sakeondernemings hande vat om ’n verskil te maak. Vanjaar beoog hulle om 67 000 liter sop te maak en aan verskeie welsynsorganisasies te skenk.

Toe AEG, Ontbytsake se kombuisborg, die span uitdaag om deel te word van die projek, het lede sonder om te blik of te bloos ingestem.

Die Ontbytsake-span pak die uitdaging saam met die B-Loved Foundation aan. Dié stigting is deel van The B4i-projek wat die oorhoofse maatskappy is waaraan Ontbytsake ook behoort en is gestig om minderbevoorregte gemeenskappe te ondersteun.

“Ons gaan 10% van die 67 000 liter sop, wat 6 700 liter is, skenk,” het Louis Mclaren, die uitvoerende vervaardiger van Ontbytsake en uitvoerende hoof van die B4i Project, aan Maroela Media vertel.

“Ons gaan dié week op die program sop maak. Ons gaan droë sopmengsel van ’n hoë gehalte gebruik en dit gaan aan begunstigde organisasies versprei word.”

Mclaren benadruk dat dit belangrik is om projekte te steun wat meer kan doen as net onmiddellike en onvolhoubare kosvoorsiening.

“Ons is absoluut oortuig dat dit wat Suid-Afrika nodig het, leierskap is. Dís hoekom ons dit juis op Mandeladag aanpak. As ons nie sterk, goeie leiers het nie, gaan ons aanhou sukkel met die huidige probleme. Oudpres. Mandela is ’n voorbeeld van ’n leier wat versoenend opgetree het en ons wil graag met dié projek ook fokus op die daarstelling van goeie leiers.”

Die 67 000 liter-sopuitdaging het op Mandeladag in 2020 afgeskop en het sedertdien al aan sowat 600 000 mense kos voorsien.

Mclaren sê hulle beoog om in die toekoms weer aan die projek deel te neem en vanjaar se deelname is beslis nie eenmalig van aard nie.

Die Ontbytsake-span nooi sakeondernemings en ander organisasies uit om ook aan die reuse-sopuitdaging deel te neem.

  • Kykers kan Saterdag om 07:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, inskakel om te sien hóé die sop deur die Ontbytsake-span gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JJ ·

Ek wonder of daar enige van die sop ook by arm blankes gaan uitkom, of is dit net vir die nuwe Suid-Afrikaners?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.