Onthoukos vir bekendes in ‘Terugkeer’

(Foto: Pixabay)

“Ek het nou vir die eerste keer besef watter rol kos speel om ʼn mens geborge te laat voel.”

Só sê Hevette Ates wat onlangs saam met haar Turks-Argentynse man, Mustafa, na Portland in die VSA verhuis het en wat vanuit die buiteland hulle tweede kos- en reisprogram vir VIA, getiteld Terugkeer, vervaardig het.

Hevette, ʼn boorling van Prins Albert, ʼn dorpie aan die voet van die Swartberg, het in 2021 aan Maroela Media vertel dat Suid-Afrikaanse restaurante se unieke spyskaarte en eienaars se stories hulle belangstelling geprikkel en gelei het tot die vervaardiging van die program.

“Deel van ons Suid-Afrikaanse kultuur is die samesyn rondom kos. Spesifieke geregte en resepte is verweef in die konsep van huis en om huis toe te gaan,” sê sy.

Mustafa het meer as 13 jaar lange ervaring as rolprentmaker in Suid-Amerika en Europa. Hy en Hevette het die afgelope paar jaar ʼn verskeidenheid van promosievideo’s en advertensies vir sosialemediaplatforms vervaardig. Terugkeer is dié egpaar se eerste televisiereeks.

In die tweede reeks neem bekendes soos Pieter-Steph du Toit, Willem Botha en Mila Guy kykers terug na hul tuisdorpe en eet saam met familie en vriende by ʼn plaaslike restaurant.

Susanne Beyers kuier in die laaste episode van die reeks saam met die span in Robertson. Beyers word deur haar broer en sy vrou, al die pad vanuit Connecticut, na dié dorp in die Kaapse Wynland vergesel.

Susanne Beyers besoek nog gereeld die Affie Plaas-padstal in Robertson. (Foto: Verskaf)

“In Robertson het ek as dogtertjie besef: ek leef, ek is ʼn mens en dit is my plek dié,” vertel Beyers.

Hevette was ontroerd toe sy hoor hoe Beyers se broer, ná 40 jaar in die VSA, sê dat mens nooit ʼn boorling word van die land waarheen jy trek nie. Wanneer hy in Suid-Afrika aankom, voel hy dadelik “dít is huis”.

Een van die grootste aanpassings was kosname en -beskrywings, vertel sy.

“In my 42 jaar is dit die eerste keer dat ek oorsee woon en dit is ʼn massiewe aanpassing. Ek begin nou eers minder verbouereerd raak wanneer ek voor die rak met brood of skoonmaakprodukte staan. Die reuseverskeidenheid van produkte is iets wat mens nie in Suid-Afrika kry nie.”

Hevette sê byvoorbeeld dat maalvleis wat in Suid-Afrika gewoon “mince” is in die VSA “ground beef” genoem word, terwyl volroommelk nie “full cream milk” is nie, maar “whole milk”. Wat in Suid-Afrika as vryloop, oftewel “free range”, bekend is, staan daar as “organic” bekend, en argurkies is nie “gherkins” nie, maar “pickles”.

As ʼn Karoomeisie verwonder sy haar ook steeds aan hoe baie dit dwarsdeur die jaar in Portland reën. “Ek luister met heimwee as my ma vanuit Prins Albert in detail laat weet ‘hoeveel punte die boere in die onderskeie wyke op hul plase gemeet het, en hoe mooi die veld is’.”

Maar sonder die Kaap se fynbos of die Karoo se dorre grond, ruik die reën in Oregon maar net nie soos wat sy dit ken nie.

Mustafa en Hevette Ates (Foto: Verskaf)

Die Ates-egpaar kon nie in Suid-Afrika wees vir die verfilming van die tweede reeks van Terugkeer nie.

“Dit was ʼn groot uitdaging en mens is maar afgehaal om nie deel van die filmspan te kon wees nie,” vertel Hevette. Sy sê verder dat dit toewyding geverg het om douvoordag aan die werk te spring.

“Jy moet regtig gemotiveerd wees en selfdissipline hê om vanweë die tydsverskil soggens om 06:00 al werksoproepe te begin maak … en dít vanuit ons eenslaapkamerwoonstel se badkamer, sodat ek nie my man of die bure wakker maak nie!”

Dit was egter ʼn vreugde om die sjefs en sake-eienaars van die platteland se oorgawe te ervaar. So ook om te sien hoe die bekendes sommer net mens word in dorpe waar inwoners hulle geken het nog lank voordat hulle bekend geword het.

Terugkeer word Woensdag (16 Februarie) om 21:00 op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai met herhalings op Donderdag om 19:30 en Sondag om 22:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.