Onthul: Is Suid-Afrika se weermag slaggereed?  

(Foto: Verskaf deur kykNET)

In Onthul: SANW – Suid-Afrika se verdedigingskrisis word daar op Sondag 17 Maart om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, gekyk wat die werklike stand van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is.

Onthul is ʼn reeks ondersoekende programme wat eksklusief vir kykNET vervaardig word, en is bekend daarvoor dat die program diep delf en ongemaklike vrae vra wat nie almal bereid is om te antwoord nie.

Geen moderne staat kan sonder ʼn funksionerende weermag klaarkom nie. Daar is grense om te bewaak en binnelandse bedreigings om te help bekamp. As lid van die Verenigde Nasies (VN) en die Afrika-Unie (AU) moet ʼn land soos Suid-Afrika boonop gereeld troepe en toerusting beskikbaar stel vir vredesendings in sommige van die vasteland se mees konflikgeteisterde gebiede.

Maar hoe gereed is die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) werklik om sy plaaslike en internasionale pligte na te kom? En hoe voorbereid is ons weermag, vloot en lugmag vir die ondenkbare – ʼn aanval op Suid-Afrika deur ’n buitelandse aggressor, hetsy ʼn terreurgroep of selfs ʼn ander moondheid?

Gebeure rakende die SANW oor die laaste anderhalf dekade wek ongelukkig ʼn sterk indruk dat nóg ons troepe nóg hul bevelvoerders hoegenaamd in staat is om in Suid-Afrika se veiligheidsbehoeftes te voorsien.

Daar was die vergrype ten tye van die weermag se ontplooiings in die inperkings tydens die pandemie, en die Guptas se Waterkloof-debakel. Meer onlangs was daar die vloot se noodlottige duikbootramp aan die Kaapse kus, en ons moes einde verlede jaar met skok kennis neem van ʼn hoogs geheime eenheid binne die weermag wat na bewering betrokke is by onwettige ontvoerings, marteling, en dalk selfs moord.

Nog voor laasgenoemde gebeure was daar die korrupsie-oersonde van ons demokratiese bestel, naamlik die laat 1990’s se wapenskandaal. Dit het ʼn onuitwisbare vlek op die SANW se reputasie gelaat. Dié multimiljard-rand bestedingsprogram het die land opgesaal met peperduur vegvliegtuie, helikopters, duikbote en fregatte; wapentuie wat sedertdien tot ʼn groot mate in onbruik verval het omdat die regering se onvoldoende verdedigingsbegrotings kwalik vir instandhouding voorsiening maak.

Presies hóé beroerd gaan dinge by die onderskeie afdelings van die SANW? Wanneer en waarom het dinge skeefgeloop, en is daar nog hoegenaamd hoop dat die vloot, lug- en weermag ooit weer optimaal sal kan funksioneer?

Hierdie aflewering van Onthul betrek ʼn handvol kenners om aan die kyker ʼn in-diepte blik in die SANW se tekortkominge, uitdagings en skandale te bied.

Die gaste op Onthul: SANW – Suid-Afrika se verdedigingskrisis sluit in Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van die weermagunie, SANWU; die militêre kenner en skrywer Helmoed-Römer Heitman; prof. Abel Esterhuyse van die Fakulteit Krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch; die spesialis-joernalis Erika Gibson; ʼn voormalige soldaat wat in die Demokratiese Republiek Kongo (DRK) diens gedoen het; en ʼn lid van die SANW wat baie onlangs as valskermsoldaat in Mosambiek ontplooi is.

Die inhoudsregisseur van Onthul: SANW – Suid Afrika se verdedigingskrisis is Pieter-Louis Myburgh, die bekroonde ondersoekende joernalis en skrywer van onder meer The Republic of Gupta. Hy het in 2016 die Taco Kuiper-toekenning ontvang vir sy artikels oor die korrupsie by Prasa.

  • Onthul: SANW – Suid-Afrika se verdedigingskrisis word op 17 Maart om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dieter ·

Ek is jammer maar almal weet dat die SANW ons nie teen n vlaag Graad R kinders kan beskerm nie.
Ons hoef nie n TV documentary te kyk om dit te weet nie.
Die magtige dreuning is nou net n irriterende muskiet in ons ore.

Chris ·

Ek kan van geen ondervinding praat oor die huidige stand van die SA weermag se vermoens/slaankrag en of weerbaarheid nie. Ek is net skrikkerig Lesotho se vloot, Swaziland se Lugmag en Madagaskar se infanterie manne raak veglustig met en vir ons. Samora Machel wa die laaste Afrika Leier wat SA wou binne geval eht, en dit ook gedoen het. Dit het hom suur bekom.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die SANDF is gereed. Die ander ouens moet net nie terugskiet nie.

Vrijburger ·

MM kan gerus ‘n artikel doen oor die program en die gevolgtrekkings & insette, nadat dit aangebied is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.