Ontmoet nuwe aanbieder, raadgewer van ‘Op my eish!’

Die komediant Schalk Bezuidenhout sal die akteur Francois Jacobs bystaan in sy soeke na liefde in die tweede seisoen van kykNET se ‘Op my eish’. (Foto: Verskaf)

Die Vir die voëls– en Kaalgat Karel-akteur Francois Jacobs is in die nuwe seisoen van Op my eish! op ware liefde se spoor.

Net soos in die vorige seisoen, waar die akteur Neels van Jaarsveld deur die akteur en aanbieder van die program, Henré Pretorius, ondersteun is, sal daar dié keer ook iemand wees om vir Jacobs op sy reis na ware liefde te help.

Niemand anders nie as die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout sal dié rol vervul.

“Soos die gesegde lui: Hulle wat nie kan nie, leer ander,” sê Bezuidenhout, wat ook onlangs teenoor Jacobs in die komediefliek Kaalgat Karel te sien was.

“Ek was al useless in my liefdeslewe en het uiteindelik my lewenslange pasmaat gevind, maar ek het lekker gesukkel in die verlede. Ek dink dit maak my juis ’n goeie raadgewer. Ek is ook ’n goeie luisteraar. As Francois twyfel of ’n skouer nodig het om op te huil wanneer dinge nou regtig moeilik raak, sal ek daar wees.”

Die komediant Schalk Bezuidenhout sal die akteur Francois Jacobs bystaan in sy soeke na liefde in die tweede seisoen van kykNET se ‘Op my eish’. (Foto: Verskaf)

Hy sê hy is nie daar om Jacobs se keuses te beïnvloed nie. “Hy moet kies wat sy hart vir hom sê. Ek dink so ’n proses raak al moeiliker hoe minder vroue daar oor is. Wat maak jy as die laaste drie almal wonderlik is en jy moet net een kies? In so ’n geval gaan hy ’n klankbord nodig hê – al is dit net om deur alles te praat om by die regte antwoord uit te kom.”

Bezuidenhout sê waarna hy die meeste uitsien, is om tyd saam met Jacobs in Mbombela (Nelspruit) deur te bring.

“Hy is Nelspruit opgesom in ’n mens. Hy verteenwoordig Nelspruit of hulle dit nou wil hê of nie. Ek dink dit is waar hy werklik in sy element gaan wees.”

Hoe weet mens iemand is regtig verlief op jou? “Wanneer jy hulle onkant betrap dat hulle net na jou staar. Hulle begin in hulle gedagtes na plekke in die toekoms gaan,” sê Bezuidenhout.

Hy sê die vrou wat Jacobs gaan kies, moet beslis avontuurlustig wees. “Hy sit nie stil nie. Hy hou daarvan om op ’n dam gesleep te word, om motorfiets te ry – enigiets wat adrenalien opjaag. Daarmee sê ek nie hulle moet albei presies dieselfde wees nie, want dit gaan vervelig word, maar sy moet darem nie soos nag en dag van hom verskil nie.”

Omdat Bezuidenhout self in die vermaaklikheidswêreld is, is dit vir hom belangrik dat Jacobs iemand kies wat hulle bedryf verstaan.

“Ons is baie weg van die huis. Ons werk lang ure. Jy moet so nou en dan ’n ander vrou op die verhoog of voor die kamera soen. Jy kan nie iemand hê wat by die huis sit en kerm en kla omdat jy nie daar is nie. Jaloesie is ’n groot probleem in ons bedryf. Die vrou moet dus onafhanklik wees en van die begin weet waarvoor sy haar inlaat. Jaloersbokkies gaan nie werk nie.”

Die komediant Schalk Bezuidenhout sal die akteur Francois Jacobs bystaan in sy soeke na liefde in die tweede seisoen van kykNET se ‘Op my eish’. (Foto: Verskaf)

Om in te skryf as een van die moontlike deelnemers, moet vroue ouer as 21 jaar oud wees en ’n Suid-Afrikaanse burger met ’n geldige paspoort wees. Hulle moet van 5 Februarie tot 5 Maart 2022 vir verfilming beskikbaar wees indien hulle een van die 12 finaliste is.

Inskrywings moet bestaan uit ’n kort video, twee onlangse foto’s van jouself asook die inskryfvorm wat ingevul moet word. Al dié elemente moet deel van die inskrywing wees – anders word dit gediskwalifiseer. Inskrywings sluit 15 Desember 2021 en slegs digitale inskrywings sal aanvaar word.

Gaan na www.kyknet.tv vir meer inligting. Enige navrae kan na [email protected] gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris dupreez ·

Ek kan my net indink hoe komies gaan die reeks wees. Dit is twee stoutgat manne die, sal nogal wil sien as hulle ernstig raak.

Kobus ·

Hierdie tweede weergawe gaan waarskynlik in alle opsigte verskil van die eerste reeks. Die kykers se reaksie gaan eweneens drasties verskil. En hoekom nie? ‘n Ander gedeelte van die kykerspubliek gaan aanklank vind daarby. Die res gaan steeds kyk, want ons is ook nuuskierig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.