Ooievaar draai eersdaags by ‘Sara se geheim’-aktrise

Quanita Adams en haar man, Brian Monroe. (Foto: Instagram/Quanita Adams)

Quanita Adams en haar man, Brian Monroe. (Foto: Instagram/Quanita Adams)

Quanita Adams, die geliefde Sara se geheim‑ en Arendsvlei-aktrise, is swanger met haar eersteling. Die aktrise het vroeër vandeesweek dié nuus op haar Instagram-profiel bekend gemaak.

Adams (42) en haar man, die Amerikaner Brian Monroe, het die nuus oor hul swangerskap vir ses maande stilgehou. Die baba maak sy of haar opwagting in Mei. Die geslag van die baba is nog nie bekend gemaak nie en bly vir eers ʼn geheim.

Sy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat die swangerskap nie vir haar en Monroe ʼn verrassing was nie, aangesien hulle ʼn geruime tyd probeer het om swanger te raak.

“As gevolg van my ouderdom het ons eers die swangerskap stilgehou, en aanvanklik het ons dit geheim gehou omdat daar angstigheid was oor komplikasies wat moontlik kon kop uitsteek. Ek dra ook baie klein, so dit was vir my maklik om my bababoepie weg te steek,” vertel Adams.

“Later het ons gewoond geraak daaraan dat die swangerskap net ons ding is, en ek deel oor die algemeen nie soveel van my lewe op sosiale media nie. Natuurlik het ons nabye vriende en familie van die begin af geweet. Noudat ek ver in die swangerskap is, is ek opgewonde om die nuus te deel. En ek is totaal en al oorweldig deur die positiewe boodskappe en liefde wat ek ontvang,” voeg sy by.

Adams, wat ook al in rolprente soos Susters en Tess gespeel het, vertel sy kan nie wag om ma te word nie. “Uiteraard is ek ook bang vir die onbekende. Ek wonder hoe die klein mensie gaan wees en lyk. Noudat my man ook die baba kan voel beweeg, is dit vir ons só lekker. Brian het nou die dag sy wang teen my maag gesit en toe ʼn taai klap gekry wat ons vreeslik laat lag het,” lag Adams.

“Ons is senuweeagtig, maar verskriklik opgewonde!”

Sy vertel dat hordes mense reeds vir haar en haar man raad gegee het oor babas en dat sy die mooiste stories gehoor het van hoe babas ʼn mens se lewe ten goede verander.

“Ek hou daarvan as mense my raad gee. Ek wil die good, bad en ugly weet, sodat ek eendag, wanneer ek miskien in so ʼn situasie is, kan onthou wat iemand my vertel het van hoe hulle dit hanteer het.”

Quanita vertolk die rol van Laetitia in 'Arendsvlei' op kykNET.

Quanita vertolk die rol van Laetitia in ‘Arendsvlei’ op kykNET.

Sy voeg by dat sy bly is vroue is deesdae meer oop met mekaar oor swangerskap. “Ek voel vroue het destyds nie soveel met mekaar gedeel oor swangerskap soos vandag nie. Dit is vir my so mooi dat vroue met mekaar kan gesels oor hierdie wonderlike proses.”

Adams vertel dit was nie ʼn maklike pad om swanger te raak nie. “Ons moes telkens teruggaan na die drawing board en maand na maand moes ons die teleurstelling van ʼn negatiewe swangerskaptoets hanteer. Tot op ʼn dag wat die stokkie positief was,” sê sy.

“Dit is die tipiese verhaal wat jy soveel keer hoor – hoe meer obsessief ek oor die proses geraak het en hoe harder ons daarop gekonsentreer het, hoe minder het dinge gebeur vir ons. Die dag toe ek besluit ek ontspan daaroor, het ek swanger geraak.

“Toe die stokkie positief wys, was ek baie kalm. Ek het dit in my sak gesit en rustig kamer toe gegaan en in die bed geklim sonder om ʼn woord te sê, maar Brian het geweet iets gaan aan. Toe ek die positiewe toets vir hom wys, het ons opgewonde begin rondspring en gil en mekaar gedruk. Dit was absoluut wonderlik.”

Adams is tans te sien op die kassie in die derde seisoen van Sara se geheim. Sy vertolk die rol van Lizzie in dié gewilde kykNET-dramareeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jessica ·

Baie, baie geluk, mag sy of hy vir julle baie vreugde bring, dis lekker om mamma te word en te wees, my eerste baba was ‘n dogtertjie vandag is sy 30 jaar oud en ‘n baie liefdevolle mamma van drie dogtertjie, 8 jaar oud en tweeling 5 jaar oud, my 2de baba was in Mei gebore, soet baba en nou is hy 29 jaar oud, en toe weer baba nommer 3 ng ‘n seun nou 21 jaar oud en toe nommer 4 ‘n dogter nou 18 jaar oud en dis die beste geskenk my beste vriende wat ek nog altyd wou gehad het, lieflike 2 dogter en 2 seuns, love all 4 my kids with all my heart, and my little 3 granddaughter’s, ek is ‘n jong ma engeniet die lewe saam met hulle daar buite.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.