‘Op die spel’: Kan bekendes ‘epiduraal’ spel?

‘n Skermskoot uit die video

Ná ʼn suksesvolle eerste en tweede seisoen van kykNET se spel- en taalspeletjieprogram, Op die spel, het die derde aflewering van dié reeks weer pas begin.

Taalfoendi’s en -puriste kan nou weer op Woensdagaande agter die televisie inskuif en ook hulle taal- en spelvaardighede op die proef stel.

Die JacarandaFM-aanbieder Rian van Heerden – weer die aanbieder van die reeks – sê dié seisoen waarborg humor, spitsvondige opmerkings en vermaak uit die boonste rakke. Van Heerden sal bygestaan word deur Gerhard van Huyssteen wat weer as die beoordelaar optree.

“Die doel van dié spelspeletjie is nie net om Suid-Afrika se spelkampioen op te spoor nie, maar om in die proses algemene kennis asook kennis van idiome en kreatiwiteit toets – alles in Afrikaans,” lui ʼn verklaring.

Dié keer is dit leerders van hoër- en laerskole wat hul slag met taal en grammatika sal moet wys. ʼn Spesiale studente-episode sal ook deel wees van die nuwe reeks, waarin vier van die beste studentespellers gaan meeding om die titel as beste speller op ʼn Suid-Afrikaanse kampus.

Die kompetisie bestaan uit etlike uitdunrondes en halfeindrondes voordat die algehele wenner in die eindronde aangewys sal word. Die program sal ook dieselfde formaat volg as in vorige seisoene, maar opwindende kinkels kan hier en daar verwag word.

Oudergewoonte kry deelnemers – én hulle skole – die kans om groot geldpryse te wen.

Op die spel word Woensdae om 20:00 op kykNET, DStv kanaal 144, uitgesaai.

Video: Bekendes wat in die gewilde kykNET-sepie Binnelanders te sien is, se taal- en spelvaardighede word op die proef gestel om te bepaal of hulle die woord “epiduraal” kan spel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.