Op die spel: Só sê die wenner

Estie Meintjies (tweede van regs) tydens die finale episode van "Op die Spel" op kykNET (Foto: VivA)

Estie Meintjies (tweede van regs) tydens die finale episode van “Op die Spel” op kykNET (Foto: VivA)

Estie Meintjes van Pretoria was die eerste algehele wenner van die kykNET-program Op die Spel.

Dié vasvraprogram is op kykNET uitgesaai en deelnemers kon spog met hul taal- en spelvernuf.

Prof. Gerhard van Huyssteen, dosent in Afrikaanse Taalkunde aan die NWU in Potchefstroom, voorsitter van die Taalkommissie was die beoordelaar en Rian van Heerden, gewilde TV- en radio-persoonlikheid het die program aangebied.

Meintjies het die ander deelnemers uitgestof en uiteindelik weggestap met prysgeld van R73 600. Sy het ook, soos al die ander deelnemers aan dié program, ʼn jaar se gratis VivA+-lidmaatskap as prys ontvang, naas ʼn gratis kopie van die nuwe HAT, die HAT Taal- en Feitegids en CTexT se SkryfGoed 4.

Meintjies het aan Van Huyssteen gesê die prysgeld was geoormerk om belê te word as neseier. “Maar met die droogte en hitte wat ons nou beleef, dink ek die geld gaan eerder belê word in watertenks en/of ʼn boorgat!” het sy gesê.

Volgens Meintjies was sy van graad 1 af al baie voorbeeldig met speltoetse. “Ek hou ook baie van lees. Dis maar ʼn kombinasie van talent en oefening.” Volgens haar werk sy ʼn groot deel van haar dag met woorde en wanneer sy onseker is, trek sy haar “getroue en gehawende” AWS [Afrikaanse Woordelys en Spelreëls] nader.

Van Huyssteen wou by haar weet wat is haar gunsteling- Afrikaanse woord. “Mos!” antwoord sy. “Dit is so ʼn kort woordjie wat so lekker baie sê – dis net baie moeilik om te vertaal, want ander tale het mos nie so ʼn lekker woord nie!”

Lees die volledige onderhoud hier.

Besoek Beter Afrikaans en VivA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.