‘Op my eish! 2’: En die topdrie is…

Francois het in Donderdaag se episode van ‘Op my eish! 2’ vir Ceylonia huis toe gestuur. (Foto: Verskaf)

Ceylonia Bekker, die 27-jarige grafiese ontwerper en bemarker wat regdeur Op my eish! 2 wyd reaksie ontlok en by tye vir groot vermaak gesorg het met haar kwinkslae, is tydens Donderdagaand se episode van dié maatsoekprogram sak en pak huis toe gestuur.

Claudia, ʼn naeltegnikus van Centurion, Leyla, ʼn digitale bemarker van Johannesburg, en Nykie, ʼn entrepreneur van Pretoria, is die drie vroue wat nou oorbly en nog hoopvol is om Francois se hart te wen.

Kykers sal onthou dat Nykie, Leyla en Ceylonia as buiteperde by die program aangesluit het en dat veral Ceylonia se opwagting groot opskudding veroorsaak het.

“Ek was nie senuweeagtig toe ek die ander deelnemers ontmoet het nie, maar hul reaksie het my onkant betrap. Hulle was maar lelik, jong, maar ag, dit is nie my eerste rodeo met girls nie. Hulle moes my maar vat soos wat ek is en my leer ken,” het Ceylonia vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel.

Ceylonia wou aanvanklik graag deel van die program wees omdat sy voorheen al vir Jacobs ontmoet het en weet dat hy ʼn aangename persoon is.

Francois Jacobs. (Foto: Verskaf)

In die voorlaaste episode van Op my eish! 2 het Francois egter vir Ceylonia gevra om haar tasse te pak, ondanks die feit dat hulle vroeër die dag ʼn diep gesprek gehad en hy vir die eerste keer regtig ʼn ander kant van haar leer ken het.

“Ceylons…” het Francois begin, maar toe lank stilgebly waarop Ceylonia met “Ah man. Ah man?” gereageer het toe sy besef dit is dalk einde van haar Op my eish! 2­-avontuur.

“Ek het soos ʼn klein seuntjie gehuil op pad hiernatoe,” het Francois na ʼn ruk erken, terwyl Ceylonia haar oë gerol het. Hy het teruggekap deur te sê dat dit nie stories is nie en gewys dat sy oë steeds pofferig is.

“Ek het actually gesien wie jy is. Dit is vir my mooi en ek waardeer dit. Ek en jy is pretty much een en dieselfde mens, maar ons is op twee verskillende plekke in wat ons soek.”

Ceylonia het hom hier vierkantig in die oë gekyk en gevra of hy weet waarna sy op soek is.

“Hoe weet jy wat ek soek? Sê vir my, wat soek ek?” het sy gevra terwyl Francois deurentyd probeer het om te verduidelik.

“Nee, nee, nee… cut the hack. Wat soek ek, Franna? Sê my?”

“Ek het geen idee nie,” was Francois se reaksie.

Ceylonia Bekker, die 27-jarige grafiese ontwerper en bemarker wat regdeur Op my eish! 2 vir groot vermaak gesorg het met haar kwinkslae. (Foto: Verskaf)

“So hoe kan jy dan vir my sê ek en jy soek twee verskillende goed as jy nie eers weet wat ek wil hê nie?”

So het Ceylonia se deelname aan die program op ʼn dramatiese, emosionele noot geëindig. Francois het probeer paai en haar hand vasgehou, maar Ceylonia het die oomblik kortgeknip deur haar hand weg te vat en terloops te noem dat Francois die eerste man is wat haar gelos het.

Francois het gemeen hy los haar nie, maar vir Ceylonia was dit anders. “Jy het my gelos, maar dis goed. Ek dink jy doen dit op ʼn goeie tyd en dit is great en alles is fine.”

Ceylonia het later laat blyk dat dit nie ʼn lekker gevoel was nie, en sy het erken dat sy en Francois wel op verskillende soektogte na liefde is.

“Ek is baie bly ek gaan huis toe, want sê nou maar ek het rêrig verlief geraak op hom en meer hierin gesit dan sou ek baie seerder gekry het.”

Die slotepisode van Op my eish! 2 word Donderdag 7 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronel ·

Francois is nie ernstig oor ‘n verhouding nie! Ek dink Schalk Bezuidenhout het my meer beïndruk

Nommer 7 ·

Wat my opgeval het van reeks 2, is dat Francois se dialoog baie ooreenstem met Neels se dialoog van reeks 1. Is dit toevallig, of as gevolg van dieselfde teks skrywer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.