‘Op my eish! 2’: ‘Hoekom sal ek dan bly’

Francois Jacobs en Elaine in ‘Op my eish! 2’. (Foto: kykNET)

Daar is geen tekort aan opwinding in die tweede reeks van die kykNET-maatsoekreeks Op my eish! nie en Donderdag se episode het ook nie teleurgestel nie.

In die sesde episode het Francois vir Abigail (23), Juané (26) en Maryna (29) op die eerste afspraak ʼn bietjie beter leer ken tydens ʼn skattejag in Pelgrimsrus.

Juané, ʼn radiografis van Roodepoort, het dié uitdaging sommer in ʼn oogwink kafgedraf en so die gelukkige meisie geword om alleentyd saam met Francois deur te bring.

Abigail en Maryna was ewe afgehaal omdat hulle die geleentheid gemis het om op ʼn spesiale afspraak saam met Francois te gaan.

Later in die episode het Francois vir Nykie (25), Ceylonia (26), Jeannedré (29) en Elaine (29) genooi vir ʼn wateravontuur op die Sabierivier.

“Vir ander mense was dit dalk nie ʼn romantiese date nie, maar vir my was dit dié ideale date,” het Nykie verklap.

Francois het moeite gedoen om alleentyd saam met elkeen van die vroue te hê, en dit is toe hy en Elaine eenkant sit en gesels dat sy vir hom sê dit is die einde van haar Op my eish!-avontuur.

“Ek weet wat ek wil hê, en ek weet ook wat ek nie wil hê nie. Ek het besluit dat ek nie my pad saam met jou gaan stap nie, want ek weet dit is nie veronderstel om saam met jou te wees nie,” was haar woorde aan Francois.

Elaine, ʼn regsassistent van Kaapstad, meen sy het besef haar en Francois se verhouding is niks meer as ʼn vriendskaplike een nie.

“Hoekom sal ek dan bly as ek werklik weet dat Francois nie die mens is saam met wie ek my lewe wil deurbring nie?

‘Op my eish! 2’ se Maryna, Juané en Abigail. (Foto: kykNET)

“Ek wens vir Francois alle sterkte toe op die pad vorentoe en dat hy werklik sy oë sal oophou, die regte keuse sal maak en sy hart sal volg.”

Kort nadat Elaine haar tasse gepak het, het Nykie, Ceylonia en Jeannedré by die res van die vroue aangesluit en die nuus met hulle gedeel. ʼn Emosionele Abigail het gesê Elaine is ʼn goeie mens en dat sy haar vreeslik gaan mis.

Skakel elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) in vir die tweede seisoen van Op My Eish! Die reeks sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.