‘Op my eish! 2’: Ontmoet vanjaar se potensiële pasmaats

Die komediant Schalk Bezuidenhout sal die akteur Francois Jacobs bystaan in sy soeke na liefde in die tweede seisoen van kykNET se ‘Op my eish’. (Foto: Verskaf)

Om liefde te vind is nie altyd maklik nie, veral nie as dit op ’n onkonvensionele manier gedoen word nie.

Ná talle video-inskrywings vir die tweede seisoen van Op my eish! moes die akteur Francois Jacobs uit al die inskrywings 15 vroue uitnooi vir blitsafsprake in Pretoria.

Gelukkig het hy ook hulp van sy sogenaamde wingman, die komediant en akteur Schalk Bezuidenhout, gehad om dinge ’n bietjie makliker te maak.

Hier is die 15 potensiële pasmaats wat hierdie avontuurbelaaide reis saam met Jacobs gaan meemaak.

Elaine Adlem (29, Kaapstad, regsassistent)

Elaine. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek het vanjaar besluit dit is my jaar van kanse waag en ek is reg om liefde te vind. Ek het die advertensie gesien vir Op my eish! en gedink hoekom nie probeer nie – ek sal graag vir Francois beter wil leer ken.

Wat soek jy in ’n man?

My man moet baie geduld hê, hy moet sy eie mens wees en hy moet buitemuurse aktiwiteite kan geniet saam met my. Hy moet my liefde vir die Here deel. Ons moet mekaar kan geniet net soos wat ons is.

Rochelle Pretorius (28, Middelburg, onderwyseres)

Rochelle Pretorius. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek het ingeskryf vir die program, want ek wou ’n kans waag op ’n nuwe uitdaging en avontuur in die lewe en om liefde te vind. Ek wou ook die geleentheid benut om Francois beter te leer ken.

Wat soek jy in ’n man?

Wat ek soek in ’n man is nie baie nie, want eerstens kry jy nie altyd waarvoor jy soek nie en tweedens kan ’n persoon ook nie iets in iemand wil hê voor jy hom beter leer ken nie. Maar as ek die basiese eienskappe kan noem, sal dit wees ’n plat-op-die-aarde man wat kan teruggee wat hy ontvang (of ten minste probeer) en dan natuurlik ’n sin vir humor, want wat is die lewe dan sonder ’n bietjie lag en joligheid saam met jou pasmaat?

Elvira Brits (24, Krugersdorp, haarstilis)

Elvira. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek het ingeskryf met die hoop om liefde en my pasmaat te vind.

Wat soek jy in ’n man?

Eienskappe wat ek in ’n man soek, is iemand wat sy man kan staan en beheer kan neem in ’n verhouding. Iemand wat lojaal en eerlik is en ’n lus vir die lewe het.

Abigail Scholtz (23, Vanderbijlpark, haarstilis)

Abigail. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

My ma het my eintlik daarvan vertel en natuurlik om liefde te vind! Ek wou vir Francois beter leer ken en uitvind watter soort man hy is. Hy lyk na ’n sweetie pie.

Wat soek jy in ’n man?

Eerstens moet hy die Here in sy hart hê en vir God leef en streef. Hy moet my op sy hande kan dra nadat hy God eerste stel. Daar moet geen jaloesie wees in die verhouding nie, ek wil weet ek is belangrik genoeg vir hom en hy vir my. Wat ek in ’n man soek, is stabiliteit, eerlikheid en ’n Godvresende man. Ek soek ’n man wat kan laf wees saam met my, wat verspot kan wees, en saam met my kan lag, maar dan soek ek ook ’n man wat ernstig is oor die lewe en ons verhouding saam.

Jeannedré de Waal (29, Pretoria, mediese verteenwoordiger vir ortopediese maatskappy)

Jeannedré. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Want ek is “op my eish”, en het niks om te verloor nie. Wie nie waag nie, wen nie!

Wat soek jy in ’n man?

Iemand wat weet wie en wat hy is en wat weet wat hy in die lewe wil hê. ’n Sterk en dinamiese man, maar wat steeds ’n sagte hart het. ’n Man wat mooi met ’n vrou praat en mense met respek hanteer. Iemand wat my ook gaan uitdaag en ’n beter weergawe van myself gaan maak.

Michelle du Toit (33, Kaapstad, somatoloog)

Michelle du Toit. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek wou hom baie graag leer ken as Francois die mens en nie as Francois die akteur en al sy karakters nie. En die feit dat hy so avontuurlustig is, het my aandag getrek omdat ek self iemand is wat van die  buitelug hou. Ek hou van uitdagings, maar om vir so iets in te skryf is buite my gemaksone.

Wat soek jy in ’n man?

Iemand wat opreg is en ’n goeie sin vir humor het. Iemand wat net homself kan wees en sy eie ding ook kan doen, al is ons in ’n verhouding, maar tog ook gehaltetyd saam met my kan deurbring. Iemand wat eerlik is en my met respek hanteer; hy moet ook gelowig wees, want dis die fondament van enige verhouding. En dan iemand wat my kan liefhê vir wie ek is en my nie probeer verander nie.

Elizna de Waal (25, Kaapstad, sportmasseuse)

Elizna. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

As jy nie probeer nie, sal jy nie weet nie! Ek het net ’n kans gewaag om te probeer.

Wat soek jy in ’n man?

Avontuur, respek, lojaliteit en tyd. Dit mag dalk vir baie mense snaaks klink, maar dit is die klein dinge in die lewe wat saak maak. Iemand om mee te bou en die pad mee te stap.

Gené van Niekerk (28, Mbombela, bedryfsbestuurder)

Gené. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek het ingeskryf, want ek wou vir Francois buite ’n professionele omgewing leer ken het en op al die avonture gaan om vir myself en my kinders te wys dat jy nooit vir enigiets hoef terug te staan nie, al is dit baie buite jou gemaksone. Wie beter om saam op adrenalienavonture te gaan as die man wat onbeskaamd sy boudjies op ’n foto laat pronk ná elke avontuur wat hy aangepak het?

Wat soek jy in ’n man?

Ek vertrou die Here vir ’n man wat die Here meer liefhet as ek, ’n sterk man met ’n sterk wil, maar wat sy wil vrywillig oorgee om in die wil van die Here te lewe. ’n Man wat sy identiteit in Christus ken en uitleef, wat my sal laat lag en aanmoedig om steeds die sterk vrou te wees wie ek is, en wat my ondersteun in my werk en roeping om in die huis van die Here te dien. ’n Man wat onselfsugtig is en mense om hom help, ’n man wat hard werk en die lewe vir ander ligter maak. ’n Man wat my kinders onvoorwaardelik sal liefhê soos sy eie en dat ons hulle saam sal kan grootmaak. En natuurlik ’n man wat lewenslustig is en saam met my op avonture kan gaan.

Lee-Anne Baker (24, Mosselbaai, aandeelhouer in brouery)

Lee-Ann. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek het ingeskryf omdat ek voel ek is reg om iemand te ontmoet wat my sal aanvul en ’n positiewe bydrae tot my lewe sal maak. Ek is al taamlik lank op my eie en is reg vir ’n liefdesavontuur in my lewe.

Wat soek jy in ’n man?

Intelligensie, humor en integriteit.

Claudia Hermann (28, Centurion, naeltegnikus)

Claudia. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek is iemand wat hou van my gewoontes en dit was die beste manier om daaruit te kom om moontlik liefde op ’n avontuurlustige manier te vind.

Wat soek jy in ’n man?

Hierdie goed is vir my baie belangrik in ’n man: lojaliteit, respek, ’n beste vriend, sin vir humor en definitief iemand wat my lompheid kan verstaan!

Michelle van der Merwe (28, Fochville, onderwyseres)

Michelle van der Merwe. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek het ingeskryf, want dit het gelyk of Francois dieselfde soort belangstellings as ek het.

Wat soek jy in ’n man?

’n Man wat dieselfde lus vir avontuur, lewe en reis deel.

Rochelle Dreyer (34, Krugersdorp, sakespesialis)

Rochelle Dreyer. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Vir die avontuur en om ’n kans te waag met liefde.

Wat soek jy in ’n man?

Lojaliteit en respek. Iemand wat saam met my die lewe kan aandurf en my ook kan uitdaag met nuwe ervarings en net om pret te hê.

Maryna Lourens (29, Lydenburg, entrepreneur)

Maryna. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek het ingeskryf met die doel om ’n konneksie te maak met ’n persoon wat my kan aanvaar vir wie ek is as individu en enkellopende ouer – in die hoop dat Francois bereid sal wees om ’n kans te waag op twee harte en hulle lief te hê as een. Ek het ’n kans gewaag op liefde buite my gemaksone om nuwe avonture aan te pak, asook om Francois beter te leer ken wie hy is as mens, voor en agter die skerms.

Wat soek jy in ’n man?

Die belangrikste kenmerke vir my in ’n man is om oor eerlike en lojale waardes te beskik. Ek is op soek na ’n intelligente, selfstandige man met ’n goeie verstandhouding wat nog tyd maak vir familie, vriende en liefde. Iemand wat nie gou is om te oordeel nie en verstaan dat almal ’n verlede het. Iemand wat onvoorwaardelik kan liefhê en emosionele ondersteuning kan bied wanneer dit nodig is. Ek is net op soek na daardie spesiale persoon wat my siel kan voed met liefde sodat ek nooit weer honger hoef te wees nie. En ook iemand wat hou van die natuur, om te kampeer en weet hoe om beter as ek te kan braai.

Deidre Denoon (24, Hartbeespoortdam, somatoloog)

Deidré. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Francois is vir my ’n interessante, misterieuse akteur wat buitengewone, interessante rolle vertolk.  ’n Mens kan net afleidings maak, maar hy lyk na ’n “life without limits” soort ou.

Wat soek jy in ’n man?

Iemand wat altyd daar is vir my, maak nie saak wat nie. Ek hou van lag, so ’n goeie humorsin is belangrik anders gaan ek heeltyd vir my eie grappies moet lag. Dis ook altyd lekker wanneer iemand saam met jou lugkastele kan bou.

Juané Bekker (26, Roodepoort, radiografis)

Juané. (Foto: Verskaf)

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek wou vanjaar uit my gemaksone klim en iets doen wat ek nooit sou gedoen het nie. Dit help ook nie ’n mens kla altyd dat jy nie liefde vind nie, maar jy plaas nie jouself daar buite om dit te kan kry nie. So, ek het ingeskryf vir twee dinge: ’n avontuur en die kans op ’n verhouding. Ek het gevoel met Francois sal ek al twee dinge kan ervaar.

Wat soek jy in ’n man?

Ek is op soek na iemand wat saam met my die lewe kan geniet. Iemand saam met wie ek kan lag en pret kan hê, maar ook iemand wat daar vir my sal wees wanneer dinge ernstig of moeilik gaan raak. Ek is op soek na die persoon saam met wie ek ’n avontuur kan hê en mekaar kan opbou en ondersteun. Iemand wat nie net my man sal wees nie, maar ook my beste maat.

Ná die 15 blitsafsprake moet Francois drie vroue huis toe stuur. Wie sal dit wees?

Skakel vanaf Donderdag 14 April 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) in vir die tweede seisoen van Op my eish!. Die reeks sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.