‘Op my eish! 2’: ‘Soeke na liefde gʼn kompetisie’

Die 23-jarige Abigail Scholtz is in Donderdagaand se episode van ‘Op my eish! 2’ huis toe gestuur.(Foto: kykNET)

Die 23-jarige Abigail Scholtz, oor wie talle kykers al van vroeg af besorgd was omdat sy glo naïef was om haar hart so vinnig op Francois te verloor, is in Donderdagaand se episode van Op my eish! 2 huis toe gestuur.

Abigail, ʼn haarstilis van Vanderbijlpark, het in verlede week se episode vir die soveelste keer laat val dat sy beenaf op Francois is. Sy het ook verklap dat Kupido se boog haar eintlik lank voor Op my eish! 2 getref het.

In haar unieke styl het Ceylonia vir Abigail met ʼn babavoëltjie vergelyk wat sy wil koester. “Ek wil haar net onder my bed bêre en ProNutro voer. Sy is regtig ʼn ongelooflike nice girl.

“Ek ondersteun haar en ek is so bly vir haar. Maar sy moet ook onthou dat dít ʼn kompetisie is en as sy huis toe gaan, dink ek net sy moet haar big girl panty aantrek en aanbeweeg.”

Ná Francois verlede week vir Jeannedré tydens hulle alleenafspraak gegroet het, het die werklikheid al hoe meer vir die ander deelnemers begin insink: Watter meisie gaan hierna haar tasse pak en wie gaan uiteindelik Francois se hart wen?

Francois en Nykie tydens ‘n spesiale afspraak in ‘Op my eish! 2’. (Foto: kykNET)

Francois en Claudia tydens ‘n boogskiet-aktiwiteit in ‘Op my eish! 2’. (Foto: kykNET)

In gisteraand (Donderdag) se episode was dit Abigail se laaste swanesang as deelnemer van Op my eish! 2. Maar anders as wat kykers dalk verwag het, het sy nie in sak en as gaan sit nie.

Abigail sê in ʼn onderhoud met Maroela Media dat sy in die eerste plek nie skaam was om te erken dat sy smoorverlief op Francois was nie. “Ek wou eerlik met myself wees – en eerlikwaar, ek het nog voor Op my eish! 2 ʼn crush op Francois gehad.

“Dit was nie ʼn baie lekker ervaring toe hy my huis toe gestuur het nie, want my enigste doel waarom ek ingeskryf het, was vir hom.”

‘Op my eish! 2’ se Leyla en Abigail. (Foto: Verskaf)

Volgens Abigail weet sy dat sy om die regte redes ingeskryf het, en al was dit sleg toe Francois haar die trekpas gegee het, het sy deur die program baie van haarself, die liefde, vriendskap en ʼn paar lewenslesse geleer.

“Ek weet dat ek regtig gegroei het en ek is dankbaar daarvoor. Dit was ook ʼn avontuur waarop ek gegaan het en waar God saam met my was. Hierdie avontuur het my as jong vrou sterker gemaak.

“Die ander deelnemers is regtig besonderse mense en elkeen van hulle het sulke mooi eienskappe. Ek het vir seker vriendinne gemaak en ons praat nog steeds met mekaar. Ek waardeer hulle ongelooflik baie,” vertel sy.

Sal Abigail weer vir so ʼn program inskryf?

“Nee,” antwoord sy. “Dit is buite my gemaksone en ek voel dat die soeke na liefde nie ʼn kompetisie moet wees nie. Liefde moet jou vind.”

Een ding is duidelik wanneer ʼn mens met Abigail oor haar Op My Eish! 2­-ervaring gesels, en dit is dat sy steeds glo in die liefde.

“Ek is nog jonk en ek weet as dit die regte man vir my is, sal ek in die eerste plek sy enigste keuse wees. So ja, ek is opgewonde oor die toekoms en om te sien wat vir my voorlê.”

Skakel elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) in vir die tweede seisoen van Op My Eish! Die reeks sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.

Gaan Kupido se boog miskien dalk vir Leyla, Claudia of Nykie tref?(Foto: kykNET)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.