‘Op my eish! 2’: Trane toe deelnemer trekpas kry

Francois Jacobs. (Foto: Verskaf)

In verlede week se episode van Op my eish! 2 was Francois Jacobs en die vroue ewe uit die veld geslaan toe Schalk Bezuidenhout twee nuwelinge, Leyla van Greuning en Shané (Nykie) Pretorius, by die groep verwelkom het.

Dié aankondiging het gevolg kort nadat een deelnemer, Elizna de Waal, die program weens persoonlike redes moes verlaat.

Jacobs en die vroue se ongemak was egter van korte duur, want kort voor lank het dinge al te jolig gegaan by ʼn skemerkelkpartytjie by die Ingwenyama-konferensie-en-sportoord buite Mbombela (Nelspruit).

Een deelnemer, Michelle du Toit, het sedertdien die tonge op sosiale media laat klap. Kykers meen haar gedrag en die hoeveelheid drankies wat sy by die partytjie gedrink het, was onvanpas.

“Ek het daardie aand een drankie te veel gehad en dit was bloot ʼn oordeelsfout. Ek’s glad nie trots daarop nie en keur nie my optrede goed nie,” vertel Du Toit aan Maroela Media.

Sy sê sy het die volgende dag besef dat haar gedrag negatiewe kommentaar gaan uitlok en dat sy twee dae na dié opname baie emosioneel was. “Ek het geweet dit is nie wie ek is nie.”

Dié 33-jarige somatoloog van Kaapstad was ooglopend ontsteld toe Jacobs haar in Donderdagaand se episode gevra het om huis toe te gaan. Du Toit is saam met Rochelle Pretorius, ‘n 28-jarige onderwyseres van Middelburg, die trekpas gegee.

Michelle du Toit. (Foto: Verskaf)

“Ek was geskok toe hy my so vroeg in die program al huis toe stuur. Ek glo elke meisie hoop om tot aan die einde te bly,” erken Du Toit.

“Vrae wat in daardie oomblik deur jou kop gaan, is ‘Waarom nou?’ of ‘Wat is fout met my?’ Ons vergelyk ons met mekaar; so dan wonder jy watter eienskappe het die ander vroue wat hy nie in jou raaksien nie.

“Dit is menslik om sulke emosies te ervaar. Jy verstaan dit nie in daardie oomblik nie, maar als maak in ʼn latere stadium sin en jy besef dat dinge verloop het soos dit moes.”

Volgens Du Toit is elkeen se pad klaar uitgelê en haar deelname aan Op my eish! was dalk net ʼn afdraaipad wat sy moes neem om haarself weer te vind. “Die eindbestemming, om Francois se hart te wen, was nie vir my bedoel nie en ek is okay daarmee.”

Sy is glad nie spyt dat sy ingeskryf het nie, sê Michelle.

“Al het kykers nie van my gehou nie en al was ek nie ʼn gunsteling onder die ander deelnemers nie, het ek dit baie geniet. Dit is buite my comfort zone en ek is altyd game vir ʼn challenge. Ek het in ʼn kort rukkie ook soveel van myself geleer.

“Ek wens vir Francois net die beste toe. Mag hy en die meisie aan sy sy baie gelukkig wees en ek hoop dat die res van die vroue die liefde vind wat hulle elkeen verdien. Die regte man sal op die regte tyd sy opwagting maak wanneer hulle dit die minste verwag.”

Skakel volgende Donderdag om 20:00 weer in op kykNET, DStv-kanaal 144, om Jacobs se reis na liefde te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adriana ·

Dankie tog sy is huistoe gestuur, sy was ñ moeilikheidmaker en regye drama queen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.