‘Op my eish! 2’-verrassing slaan asems weg

Ceylonia Bekker (Foto: Verskaf)

Schalk Bezuidenhout het in Donderdagaand se episode van Op my eish! 2 groot opskudding veroorsaak toe hy nog ʼn deelnemer by die groep verwelkom het.

Francois Jacobs, wat in hierdie seisoen op liefde se spoor is, het van oor tot oor geglimlag toe die 26-jarige Ceylonia Bekker per helikopter by die Lowveld Aero Club opdaag.

Hy was op ʼn afspraak saam met Shané (Nykie) Pretorius, Lee-Anne Baker en Gené van Niekerk van waar hulle om die beurt in ʼn helikopter oor Mbombela (Nelspruit) sou vlieg.

Deel van Op my eish! se formaat is dat nuwe vroue te eniger tyd as buiteperde (wild cards) in die program kan aansluit. Jacobs of die ander vroue weet glad nie wanneer dit kan gebeur nie.

Bekker is die derde deelnemer wat onverwags haar verskyning maak. Die ander twee is Nykie en Leyla van Greuning.

ʼn Mens kon egter nie die gemengde reaksies op deelnemers se gesigte miskyk nie.

“Ek dink ons almal was ʼn bietjie verbaas gewees, want ek dink nie dit is wat ons verwag het nie,” het Lee-Anne gesê.

Vir Gené was Ceylonia se aankoms nie ʼn aangename verrassing nie.

“Ek was baie geskok om te sien hier klim nog ʼn meisie uit, want die afgelope week was regtig vir my ʼn rollercoaster.

“Ek mis my kinders en ek offer so baie op soos al die ander meisies om hier te wees en ewe skielik, ʼn week later, kom daar nog ʼn deelnemer by.”

Ceylonia Bekker is die derde deelnemer wat onverwags haar verskyning in ‘Op my eish! 2’ maak. (Foto: kykNET)

Toe Jacobs later die geleentheid kry om individuele alleentyd saam met hierdie vroue deur te bring, het hy egter vir Lee-Anne gevra om haar tasse te pak.

“Om net alles te los vir iemand wat jy nou eers ontmoet het, is vir my eintlik belaglik,” het Lee-Anne later te kenne gegee. “Ek wil op die ou end ook nie iemand hê wat my nie kies nie.”

Terug by die Ingwenyama-konferensie-en-sportoord het die ander deelnemers rustig gesit en kuier toe Nykie en Gené saam met Ceylonia by hulle aansluit.

Die gesellige atmosfeer het vinniger verander as wat jy “verrassing” kan sê. Die meeste deelnemers het beslis nie ʼn moordkuil van hul harte gemaak nie en duidelik te kenne gegee dat hulle onthuts is.

Van links na regs: Leyla van Greuning, Claudia Hermann, Jeannedré de Waal en Juané Bekker. (Foto: kykNET)

Ceylonia verklap dat dié reaksie haar ook onkant betrap het.

“Ek was nie senuweeagtig toe ek die ander deelnemers ontmoet het nie, maar hul reaksie het my onkant betrap. Hulle was maar lelik, jong, maar ag, dit is nie my eerste rodeo met girls nie. Hulle moes my maar vat soos wat ek is en my leer ken,” vertel dié blondekop in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Ceylonia sê sy wou graag deel van die program wees omdat sy voorheen al vir Jacobs ontmoet het en weet dat hy ʼn aangename persoon is.

“Ons deel baie belangstellings en ek hoop dat hy vir my kan gee wat ek in ʼn man wil hê. Ek soek ʼn dude wat funny is, my verstaan en patient is. Ek het so baie liefde om te gee ek wil net nie hoef te baklei daarvoor nie.”

Skakel elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) in vir die tweede seisoen van Op My Eish! Die reeks sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

Gaan my verstand te bowe dat dames aan sulke programme deelneem. Die hoofkarrakter komplimenteer al die deelnemers , skep ‘n verwagting en dan stuur hy hulle huistoe. Is dit pret of ‘n vernedering? Die een deelnemer hou van niemand nie, sy kom skynbaar ook met niemand oor die weg nie. Waarom onttrek sy dan nie? Die onderwyseressie wat so lelik praat is nie snaaks nie. Praat sy so voor haar klas ook? Stem saam met die een deelnemer. Hullr offer baie tyd op en kan die sogenaamde ” wild kaart” in. Is dit regverdig?

Nommer 7 ·

Beter as Boer soek ‘n Vrou. Daardie meisies was te ordentlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.