‘Op my eish!’: Deelnemer verloof ná Neels haar trekpas gee

Dorianne Prince en haar verloofde, Ruan Groenewald. (Foto: Verskaf)

Die 28-jarige donkerkop-Kapenaar Dorianne Prince, wat in Donderdagaand se episode van kykNET se maatsoekprogram Op my eish! huis toe gestuur is, het intussen verloof geraak.

Die akteur Neels van Jaarsveld is in dié program op soek na ware liefde op die kassie.

Die nuus van Prince se verlowing is kort ná afloop van die program bekend gemaak. Kort nadat haar tyd op die program in Februarie in Hermanus in die Wes-Kaap tot ʼn einde gekom het, het sy verloof geraak aan Ruan Groenewald.

Prince vertel sy en Groenewald het verlede jaar tydens die inperking bevriend geraak. “Aan die begin was dit eerder aanlyn as in persoon, waarna ons meer tyd saam oor naweke deurgebring het.

“Die dag dat ek hom laat weet het Neels het my huis toe gestuur, is die dag dat hy besluit het om die kans aan te gryp om meer as net vriende te word. Hy het my kom verras en sommer met die intrapslag my pa ontmoet,” vertel sy opgewonde.

Groenewald het op 9 April vanjaar ʼn ring aan Prince se vinger gesteek. “Dit was en sal altyd ʼn ongelooflik spesiale oomblik vir my en hom wees. Die liedjie ‘Trouvrou’ van Brendan Peyper is ‘ons liedjie’, wat gepas is omdat ons vroue dit heeltyd in Hermanus geluister het,” vertel sy.

Die paartjie trou in Augustus vanjaar in die Koue Bokkeveld naby Ceres.

Neels van Jaarsveld.

Prince was vir agt jaar enkellopend en het in Desember verlede jaar gevoel haar hart gaan oop vir die moontlikheid van liefde.

“Dit kos waagmoed om die onbekende aan te durf. Soos hulle sê: ‘Wie nie waag nie, sal nie weet nie’,” sê sy.

Prince is nie die enigste een wat Van Jaarsveld huis toe gestuur het in die jongste episode nie. Lizelle, die ma van een, moes ook haar tasse pak.

Op my eish! is elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

 

Lizelle het ook die trekpas gekry in die jongste episode. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.