‘Op my eish!’ eersdaags terug – met ʼn nuwe akteur op soek na liefde

Francois Jacobs gaan na liefde soek in die tweede seisoen van ‘Op my eish!’.

Eers het hy die knieë lam gemaak in die fliek Vir die voëls en toe die lagspiere geprikkel in die komedie Kaalgat Karel.

Nou is die akteur Francois Jacobs (32) op soek na liefde in die werklike lewe as deel van die kykNET-werklikheidsreeks Op my eish! 2.

Die akteur Neels van Jaarsveld het in die vorige seisoen liefde gevind by Florinda Hearn, en dié TV-liefde seëvier steeds.

Met ʼn ewige vonkel in die oog en daardie sexy sagte bry, maak Jacobs al vir jare menige vroue se knieë lam. Daarby saam is hy ’n gentleman, aantreklik en energiek. Maar die groot liefde? Dié het hom nog altyd ontwyk.

Toe die vervaardigers van Op my eish! ’n nuwe vrygesel vir die tweede seisoen van die reeks gesoek het, was Jacobs ’n uitstekende keuse. Jacobs, ’n boorling van Mbombela, is onder meer bekend vir rolle in reekse soos Spoorloos 1, Binnelanders, Donkerland en Sterlopers.

Hy is egter net so gemaklik op die verhoog in ʼn stewige drama as met ʼn mikrofoon in die hand as aanbieder. Avontuur is nooit ver agter nie – Jacobs is immers ’n man wat amper sy eie vlieglisensie het. Hy werk ook as vervaardiger en regisseur en sê nooit nee vir ’n uitdaging nie.

Francois Jacobs. (Foto: Verskaf)

“Ek sien ongelooflik baie uit na die proses en om hopelik ook soos Neels liefde te vind. Of trou vir my is, sal ons nog sien, maar ek gaan die beste van die proses maak met die hoop om liefde aan my sy aan die einde van die reeks te hê.”

In die vorige reeks van Op my eish! het Van Jaarsveld liefde gevind toe hy Hearn, ’n skoonheidsterapeut, ontmoet het. Maar om haar uiteindelik te kies moes hy eers 13 ander vroue ook ontmoet en beter leer ken het. Toe die liefde tussen hom en Hearn egter geblom het, het dit geblom om te bly en hulle is vandag nog gelukkig saam.

In die nuwe reeks gaan Jacobs 16 vroue uit al die inskrywings kies, hulle in Johannesburg ontmoet en met elkeen ’n blitsafspraak hê. Hy gaan dan 12 kies en hulle oor die volgende vier weke beter leer ken.

Kykers kan weer avontuurlustige uitstappies en emosionele tonele verwag wanneer Jacobs die vroue een vir een huis toe stuur. Hierdie seisoen word, anders as die eerste een, op verskillende dorpe geskiet.

Soos met die vorige reeks gaan hy ’n “wingman” hê – daardie vriend wat jou deur dik en dun sal bystaan. Wie gaan dit wees? Wie gaan kan byhou by Jacobs se ondeundheid, sin vir humor en lus vir avontuur?

Francois Jacobs. (Foto: Verskaf)

Gideon Eksteen, uitvoerende vervaardiger van die reeks, moedig vroue aan om hulle inskrywings so gou moontlik in te dien. “Dit is baie belangrik dat die inskrywings volledig moet wees. Indien daar selfs net een element kort, sal die inskrywing ongelukkig uitgegooi moet word. Maak dus doodseker alles is daar voor jy dit stuur.”

Om in te skryf as een van die moontlike deelnemers, moet vroue ouer as 21 jaar oud wees en ’n Suid-Afrikaanse burger met ’n geldige paspoort wees. Hulle moet van 5 Februarie tot 5 Maart 2022 beskikbaar wees vir verfilming indien hulle een van die 12 finaliste is.

Inskrywings moet bestaan uit ’n kort video, twee onlangse foto’s van jouself asook die inskrywingsvorm wat ingevul moet word. Al die elemente moet deel van die inskrywing wees anders word dit gediskwalifiseer. Inskrywings sluit op 15 Desember 2021 en slegs digitale inskrywings sal aanvaar word.

  • Skryf hier in.
  • Kyk hier na die voorskou-video.

Gaan na www.kyknet.co.za vir meer inligting. Enige navrae kan na [email protected] gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.