‘Op my eish’-gunsteling uitgestem; top-3 bly oor

Janka Lötter van ‘Op my eish’. (Foto: kykNET)

Die skok was duidelik sigbaar by Janka Lötter van kykNET se maatsoekreeks Op my eish toe die akteur Neels van Jaarsveld haar meedeel dat hulle paaie amptelik gaan skei.

Tanya, ʼn sakevrou van Pretoria, Florinda, ʼn naeltegnikus van Randfontein, en Nadine, ʼn joernalis van Kaapstad, is die drie vroue wat oorbly om te wedywer om Neels se hart.

Janka (29) vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy was “verras” toe sy huis toe gestuur is, want haar en Neels se alleen-afspraak vroeër die week het só goed afgeloop.

“Ek het regtig gedink ons het gelyke grond bereik en ek het eerlikwaar gedink ek gaan in die top-3 wees. Ek was uit die veld geslaan, maar ek glo steeds dat hy my nie werklik leer ken het nie. Ek het nie verwerp gevoel of gedink ek is nie goed genoeg nie, maar ek het wel gevoel hy kon my nog so ʼn bietjie langer daar gehou het.”

Sy vertel dit was vir haar hartverskeurend dat haar ervaring op die program, veral saam met die ander vrouedeelnemers, tot ʼn einde gekom het.

“Ons was maande lank saam in ʼn borrel en niemand anders, behalwe ons, verstaan waardeur ons gegaan het nie. Die meeste van ons was heeltemal buite ons gemaksone, met sommiges wat selfs van ʼn ander provinsie gekom het. Die omstandighede was baie uitdagend en daarom is ons almal op ʼn emosionele vlak saamgebind.”

Die program is hoofsaaklik in die Wes-Kaap geskiet en die vroue het by die Misty Waves Boutique Hotel in Hermanus tuisgegaan.

“Ek het verwag om in ʼn huis vol katterigheid in te stap, maar dit was glad nie die geval nie. Ons het almal uiteenlopende persoonlikhede, maar die goue draadjie wat ons almal verbind, is dat ons sterk, onafhanklike vroue is wat almal na die regte lewensmaat soek. Op daardie vlak het ons almal iets gemeen gehad.”

Janka (agter middel) saam met (v.l.n.r.) Dorianne, Tanya, Melani, Efraine, Florinda en Hettie (voor). (Foto: kykNET)

Volgens Janka het sy ʼn hegte band met veral ses van die ander vroue gesmee. Sy verklap dat sy en Efraine van Heerden, wat haar in die vorige episode aan die program onttrek het, onlangs saam vir ʼn branderplankryles gegaan het.

“Ons almal bly in kontak en kuier oor en weer. Ons is saam op WhatsApp-groepe en soms maak ons video-oproepe as groep of individueel.”

Sy vertel die dag waarop sy uitgestem is, het die span agter die skerms van die program saam met haar gehuil en die sjef het spesiaal vir haar kos na haar kamer toe laat stuur.

“Ons was in ʼn ongelooflik veilige omgewing en almal het deurentyd na my welstand omgesien. As ek ʼn hoogtepunt moet uitlig, sal dit die haaihokduikery wees. Dit het iets in my verander en my meer avontuurlustig gemaak.

“Ek het altyd ʼn vrees vir haaie gehad en wou daarom nie in die see swem nie, selfs al het ek op Jeffreysbaai grootgeword. Dié ervaring het my gehelp om my vrese te oorkom en ek en Efraine kon selfs gaan branderplankry.”

Janka en Neels op hulle alleen-afspraak. (Foto: Verskaf)

Janka, ʼn wynplaasambassadeur wat in die noordelike voorstede van Kaapstad woon, sê sy wou aanvanklik graag inskryf vir Op my eish omdat sy Neels bewonder en nog altyd gedink het hy is snaaks en oulik.

“Ek en Neels het gevind ons het ʼn sin vir humor gedeel; ek het altyd sy grappe gesnap en hy myne. Ons het mekaar op ʼn intellektuele vlak verstaan en daarom het ek gedink ons sal goed saam pas.”

Sy het egter geen kontak meer met Neels nie en verklap dat sy steeds enkellopend is. “Ek is oop vir opsies, maar ek is eerder alleen as wat ek saam met die verkeerde persoon is.”

Die laaste episode van Op my eish word Donderdag 15 Julie op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Dit is maar die lewe en deel van die aktualiteit. Show business. Ware liefde blom anders. Vat dit soos ‘n vrou. Daar is ander juwele daarbuite onder die stof as jy jou naels wil vuilmaak.

MakersMark ·

Na die reeks tot ‘n einde kom is ou eish nog steeds op sy eish.

MakersMark ·

Lyk my die ou is maar vol nonsens dink hy is ‘n “eishter”……

Wilma ·

Sy was my gunsteling van al die meisies en nogal ‘n Kaapse nooi. Sy is pragtig van binne en buite!!

Astrain ·

Eish, wil iemand nie net baie geld betaal vir hom sodat die man kan terugbeweeg na akteur toe, hy is baie meer aanvaarbaar daar…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.