Oplewing in skaakbordbestellings oor Netflix-reeks

In David Ferrer se fabriek sny en stik werkers aan fyn velle hout om skaakborde te maak vir ʼn oplewing in bestellings wat beleef word in die nadraai van die wegholsukses van die Netflix-reeks The Queen’s Gambit.

Rechapados Ferrer is ʼn klein familie-sakeonderneming en sukkel om voor te bly met die aanvraag na sy skaakborde sedert dit in die bekroonde minireeks oor ʼn wees skaak-wonderkind verskyn het.

“Ons het nog nooit so ʼn groot styging in die aanvraag na ons skaakborde beleef nie,” sê David Ferrer (30), bestuurder van Rechapados Ferrer in La Garriga, die nywerheidsgordel wat Barcelona, Spanje, omring.

Die maatskappy vervaardig jaarliks sowat 20 000 skaakborde, maar het reeds vanjaar sowat 40 000 bestellings gekry te danke aan die Netflix-reeks en die hernude belangstelling in bordspeletjies weens wêreldwye inperkings.

“Daar is nog baie maande wat voorlê tot die einde van die jaar,” het hy aan AFP gesê.

Rechapados Ferrer, wat net 14 werknemers het, is in die 1950’s gestig om hout vir meubels te verskaf, maar het ʼn dekade later uitgebrei met die vervaardiging van skaakborde.

“As my ouers net dít kon sien,” glimlag Joan Ferrer, David se pa en seun van die maatskappy se stigter.

Hoewel hy afgetree het, besoek hy gereeld die fabriek en kan hy onthou hoe sy ouers die eerste skaakborde gemaak het in “’n klein kamer, waar hulle stroke hout gestik en gesny” het.

“Aanvraag is gek”

‘n Skermgreep uit ‘The Queen’s Gambit’. (Foto: IMDb)

Hulle het aanvanklik slegs saam met ʼn nabygeleë vervaardiger van skaakstukke gewerk, maar het uiteindelik uitgebrei na die verkope van hulle eie produkte oor die hele Spanje en daarna wêreldwyd.

Vandag word 98% van hulle skaakborde uitgevoer, met sommige wat in toernooie gebruik word. Dit was daarom geen verrassing toe hulle agterkom hulle produkte word in The Queen’s Gambit gebruik nie.

Miquel Berbel, hoof van die maatskappy se skaakbordafdeling, het een van hulle skaakstelle in die laaste episode van die reeks opgemerk.

In die naelbyter-finalé gaan die skaak-wonderkind Beth Harmon na Moskou om teen Rusland se wêreldkampioen Vasily Borgov mee te ding in ʼn spel wat gespeel word op ʼn elegante swartraambord met ʼn rooi en geel randjie as versiering.

“Daar is baie besonderse borde wat slegs deur ons gemaak word en daardie bord was beslis een van ons s’n,” het Berbel gesê.

Die bord was handgemaak vir die maatskappy se eerste internasionale kliënt, ʼn bordspeletjieverspreider in Berlyn, waar die reeks gedeeltelik geskiet is.

Ferrer was opgewonde toe hy hiervan te hore kom, al was dit nie die eerste keer dat een van hulle skaakborde in ʼn rolprent of televisiereeks verskyn het nie.

“Ek was opgewonde, maar het nie hierdie soort reaksie verwag nie,” het hy gesê.

“Die aanvraag is gek. Ons kry groot getalle e-posse en kan nie almal beantwoord nie.”

“Strewe na perfeksie”

‘n Skermgreep uit ‘The Queen’s Gambit’. (Foto: IMDb)

Bestellings het vroeg verlede jaar begin toeneem toe die pandemie getref en inperkings begin het, maar dit het vlerke gekry nadat The Queen’s Gambit in Oktober 2020 uitgereik is. Dit het die maatskappy genoop om drie nuwe werknemers aan te stel.

“Om die aanvraag te haal behoort ons die werkmag te verdubbel of drievoudig te maak. En ons wil nie daardie roete volg nie, want ons weet nie hoe lank dit gaan hou nie,” het Ferrer gesê.

Die vervaardiging van skaakborde is ʼn stadige proses. Die vakman kies eers ʼn hout van ʼn hoë gehalte wat dan gesny word in lang, dun velle in ligte en donker kleure.

Die vakmanne stik dan met behulp van ʼn masjien die velle styf aan mekaar met ʼn taaierige draad en maak deurentyd seker daar is nie die geringste gaping tussen die velle nie. Die borde word vernis voordat dit verpak word.

“Ons gaan die afrondings noukeurig na, aangesien ons strewe na perfeksie,” het Oscar Martinez, ʼn 40-jarige vakman, gesê.

Ferrer het gesê selfs al wou hy, sou dit moeilik wees om meer werknemers te vind gegewe die tekort aan geskoolde vakmanne, wat ongeveer vyf jaar opleiding ontvang.

“Ons wil natuurlik groei. Dit is baie geskoolde werk en alles neem tyd. Dit is ware vakmanskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.