‘OppieStoep’ op soek na nuwe talent

Aanbieders van OppieStoep, Pietman Geldenhuys en Lyntjie Jaars (Argieffoto).

Pietman Geldenhuys en Lyntjie Jaars, die aanbieders van kykNET se OppieStoep, nooi talentvolle storievertellers om deel te wees van hul talentsoektoer.

Maroela Media het by die twee aangeklop om meer uit te vind oor dié opwindende toer wat binnekort begin.

“Omdat ons met Covid-19 saam nie met die vorige reeks kon toer nie, het ons maar die mense wat ons ken genooi. Nou kan ons weer lekker op die pad gaan en tussen die mense wees. Dis immers waar die stories begin,” sê Geldenhuys.

Jaars skerts dat sy haar tasse byna klaar gepak het vir die toer.

“Dis die eerste keer wat ek deel is van die toer en ek sien baie daarna uit.”

Die twee aanbieders sal saans om 18:00 by die voorafbeplande venues hul opwagting maak, en stadig maar seker deur die mense se stories werk.

“Dis waarom OppieStoep se Whatsapp-lyn belangrik is. Daarop kan mense solank vir ons sê waar hulle gaan wees met ʼn storie. Dan weet ons vir hoeveel mense om voor te berei en ons weet ook wie almal stories kom vertel.

“Ons begin nog nie nou al met opnames nie, hierdie is deur en deur ons talentsoekkompetisie,” sê Geldenhuys.

Van die storievertellers wat aan die toer deelneem, sal teruggenooi word om weer te kom gesels wanneer die opnames vir ʼn nuwe seisoen begin.

“Die wenresep van die program begin by die feit dat ons dit gesinsvriendelik hou. Daar is ’n fyn lyn tussen laat nag in die kroeg en heeldag op die stoep. Dis ons leuse.

“Wanneer ’n Namakwalander ’n storie begin met ‘kyk hier’ en eindig met ‘hoor jy’, dan weet jy dat ʼn goeie storie gaan wees.”

Hulle sien uit daarna om saam om die pad te wees.

“Ek sien uit om saam met Lyntjie te toer en ook ʼn bietjie haar wêreld te gaan verken.”

Die twee sê dat hulle graag die res van die land ook wil besoek, maar dat hulle vir nou net die areas gaan verken waarmee hulle vertroud is.

“Ek weet daar is oral stories, mense wat dalk nie so ingestel is op televisie nie, wat verkies om stories vir familie en vriende te vertel. Dis by hulle wat ons wil uitkom,” sê Geldenhuys.

Jaars meen dat ʼn goeie storieverteller iemand is wat sy of haar storie ken en met vertroue vertel.

“Party mense vang nie altyd die grap lekker nie. Die storieverteller moet dit so vertel dat dit die mense van die begin af bind. Jy lê omtrent in daardie mens se mond, want jy wil die storie luister tot die einde toe. Wanneer hy dan by trefreël kom lê jy soos jy lag, jy is dan sommer flou,” sê Jaars.

Geldenhuys voeg by dat feite nie altyd belangrik is wanneer ʼn storie vertel word nie.

“Ná party van die stories sal jy ook kan glo dat jy perskes kan pluk van ʼn kokerboom af,” skerts Jaars.

“Tydsberekening speel ook ʼn groot rol. Jy moet kan sien hoe die storie voor jou afspeel, dit maak vir baie lekker luister.”

Jaars en Geldenhuys is op die volgende datums op die volgende plekke:

  • 1 Maart op Clanwilliam by die Bella Villa Restaurant
  • 2 Maart op Vredendal by Die Keldery – Namaqua-wyne
  • 3 Maart op Springbok in Okiep Country Hotel
  • 4 Maart op Upington in Protea Hotel
  • 6 Maart op Kathu by Kalahari Country Club
  • 7 Maart op Kimberley in Horseshoe Hotel
  • 8 Maart op Colesberg in Merino Inn
  • 9 Maart op Beaufort-Wes by die Beaufort-Wes-klub

Vir meer inligting stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die webwerf. Om jou plek op die verhoog te bespreek, stuur ʼn Whatsapp na 087 058 5358.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Dankie tog. Altyd dieselfde mense met afgewaterde stories. Redelik vervelig

Witbaard ·

Julle stories is afgesaag . Probeer bietjie storievertellers uit ander streke . Julle probeer in die legendariese spore van Spies en Plessis en Tolla loop, maar sal dit nooit regkry nie.

Kobus ·

Goeie genade! Laat vaar tog die ewige negatiwiteit! Ons geniet hierdie program baie. Dankie vir die lekker ligte kuiertyd op die stoep.

Kokkie ·

Sommige van julle MM se ‘sensors’ is inderdaad ooms/tannies ‘van wie niemand hou nie.’

Kobus ·

Wonderlike program. ‘n Gunsteling-kuiertyd op die stoep; baie dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.