‘Oubaas’ ondergaan gedaantewisseling vir nuwe rol

Pierre van Pletzen as Oubaas (Foto: Instagram via Real 7de Laan)

Die Afrikaanse akteur en musikant Pierre van Pletzen het onlangs ʼn gedaanteverwisseling ondergaan vir ʼn nuwe karakter wat hy in die kykNET-sepie Getroud met rugby gaan vertolk.

Rudo van Heerden, vervaardiger en reklamebeampte vir dié program, het bevestig dat Van Pletzen binnekort in die sepie gaan verskyn.

Die akteur gaan die rol van Sakkie, ʼn verkoopsman van tweedehandse motors, speel. Van Heerden sê sy karakter verskil aansienlik van vorige karakters soos “Oubaas” van 7de Laan of selfs Manie Kraaywinkel in Phil101. Hy moes onder meer sy baard, snor én hare skeer.

“Ons wil nog nie te veel oor sy karakter verklap nie omdat ons die storielyn geheim wil hou,” vertel hy. “Die rede hoekom ons soveel geheim wil hou, is omdat sy karakter uit die bloute gaan opdaag – niemand gaan dit verwag nie omdat Sakkie uit iemand se verlede te voorskyn kom.”

Hy sê Van Pletzen sal na verwagting van middel Januarie op die kassie te sien wees.

Van Heerden sê hy is ʼn tydelike akteur, maar het ʼn vasgestelde kontrak vir die sepie. “Hy gaan in die sepie kom en dan weer gaan, maar sal weer binnekort terugkom omdat hy ʼn vaste kontrak met ons het,” sê hy.

Van Pletzen is ook deel van die musiekgroep Harrebaard saam met Frank Opperman (hoofsanger en kitaarspeler), Anton L’Amour (kitaar) en Leon Ecroignard (baskitaar). Hy het vroeër aan Maroela Media vertel die groep beplan om binnekort ʼn album bekend te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.