‘Ouboet en Wors’ is terug op die kassie!

Ouboet en Wors is in Oktober terug op die kassie (Foto: Facebook)

Die bekende kykNET-komediereeks Ouboet en Wors is vanaf 8 Oktober terug op die lug en gereed om kykers weereens te laat skaterlag, en hierdie keer bring hulle ’n nuwe karakter saam.

Eldon van der Merwe is te sien as Elvis Prinsloo. “Ek is die nuwe vakleerling by Fix-it wiff Ouboet. Elvis is baie handig as dit kom by die regmaak van elektroniese toestelle soos ’n Xbox of ’n dekodeerder, en is dus die perfekte handlanger vir Ouboet wat meer kennis het van hardeware. Saam kan hulle nou enige ding fix.

“Die karakter is baie spelerig en dit laat my toe om sy verbeelding en sy idee van ’n grootmenswêreld in te kleur. Sy onskuld laat my toe om hom opwindend en nuuskierig te hou, en dit is vir my die lekkerste uitdaging.”

Hugh Masebenza is weer te sien as Fogile. “Fogile hou van wat Fogile hou,” het Hugh oor sy karakter gesê.

“Hulle sê soort soek soort, en Fogile se soort is hyself. Elke huis het sy kruis, en Fogile is die kruis. Maar met al sy dinge hou ek van hom. Hy is pret om te speel omdat hy so anders as ekself is.”

Die res van die rolverdeling is terug in hulle rolle: Frank Opperman is Ouboet van Tonder, Willie Esterhuizen is Wors Visagie, Lizz Meiring is Molly Visagie, Sally Campher is Yollie van Tonder, Liane Heyl is Boeboe, Kaz McFadden is Hendrikkie van Tonder en Wynand van Vollenstee is Gielie Goosen.

Kykers ontmoet reeds in die eerste episode Ouboet se nuwe appy, maar Gielie is bekommerd oor hoe dit sy salaris gaan beïnvloed. Intussen is Hendrikkie groen van jaloesie, omdat iemand dan die seun gaan wees wat sy pa nog altyd wou gehad het.

Boeboe se Dakota is nog so onhebbelik soos altyd, en Yollie is op ’n missie omdat haar seun ongelukkig is.

Skakel vanaf 8 Oktober 2018 om 20:00 op DStv-kanaal 144 in vir Ouboet en Wors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amelia ·

Jippie – Ouboet en Wors is terug vir nog ‘n lag vir die dag. Jippie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.