Ouer bok en ’n jong blaar: Kan so ’n verhouding werk?

Ivan Botha en Greteli Fincham as Wim en Elani in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

In die kykNET-drama Alles Malan het Elani (Greteli Fincham) en Wim (Ivan Botha) se verhouding vinnig vlamgevat tot groot skok en ongeloof van haar ouers.

Die vraag is egter of hulle nie oorreageer nie? Kan ’n verhouding tussen ’n man wat minstens 15 jaar ouer is as die vrou werk of nie?

Soos die liedjie gaan: Ou bokke like mos die groen blare. Deur die eeue heen het dit al wenkbroue gelig en mense agter hulle hande laat skinder, maar tog is daar verskeie voorbeelde van sulke verhoudings wat werk.

Die Nieu-Seelandse aktrise Catherine Zeta-Jones is 25 jaar jonger as die akteur Michael Douglas en hul huwelik – hulle is in 2000 in New York getroud – staan nog sterk.

George Clooney het al ’n rits beeldskone vroue aan sy sy gehad, maar dit was Amal Alamuddin, 17 jaar jonger as hy, wat hom uiteindelik voor die kansel gekry het.

In Suid-Afrika was die tweede en derde huwelike van prof. Chris Barnard destyds opspraakwekkend. Sy tweede vrou, Barbara, was 19 jaar oud toe sy in 1970 met die 47-jarige chirurg getroud is en nadat hierdie huwelik in die skeihof beland het, is hy in 1988 met Karin Setzkorn getroud wat 40 jaar jonger as hy was.

Ivan Botha en Greteli Fincham as Wim en Elani in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Die mense praat

ʼn Mens moet egter reg van die begin af in gedagte hou en gewoon word daaraan raak dat mense gaan praat. Sommige gaan sê dis verkeerd, ander gaan jou ondersteun. Mense gaan dalk sê die vrou doen dit net vir geld of die man doen dit omdat hy sy jeug probeer terugkry. As mense egter agterkom dat julle werklik lief is vir mekaar, sal die geskinder dalk minder raak. Maak gereed vir enige ongemaklike vrae of skewe opmerkings. Aan die einde van die dag is julle verhouding net dit: julle verhouding.

Punt A en punt B

Jy en jou ouer kêrel gaan sonder twyfel op verskillende plekke in julle lewens wees. Hy gaan heel moontlik al gevestig wees in sy beroep en jy gaan dalk nog jou voete vind. In Elani en Wim se geval is dit nog meer uitdagend aangesien sy ’n student is. Die enigste manier om hierdie probleem te oorkom, is om te kommunikeer. Wees eerlik met mekaar oor wat julle uit die verhouding wil hê. Sorteer probleme uit wanneer dit gebeur. Moenie wag vir die klein jakkalsies om die wingerd te verniel nie.

Jou gunsteling-liedjie is wat?

Julle verwysingsraamwerk gaan verskil hoe groter die ouderdomsgaping is. Daarmee saam gaan julle belangstellings. Jy is dalk mal oor hedendaagse musiek, maar hy verkies musiek van die negentigs. Leer om aan te pas en mekaar in ag te neem. Dieselfde geld enige ander belangrike elemente in jou lewe. Is jy iemand wat tot laataand wil dans of is jy ʼn huishen? Aan die begin gaan julle so verlief wees dat dit opwindend is om alles te doen wat die ander een wil doen, maar mettertyd gaan jou eie voorkeure weer begin kop uitsteek en dit kan probleme veroorsaak.

Tussen die lakens

Navorsing het al getoon dat mans hulle seksuele piek vroeër as vroue bereik, maar deesdae is daar ander navorsing wat wys dat dit nie noodwendig so is nie. Wat egter nie weggepraat kan word nie, is dat seks vir enige persoon deur die jare verander en dat ouderdom beslis ’n rol speel. Ons woon gelukkig in ’n tyd waar seks nie meer ʼn taboe onderwerp is nie en die hulp van onder meer terapeute en boeke oor die onderwerp kan ingeroep word indien dinge nie meer klopdisselboom tussen die lakens gaan nie.

Elani en haar seuntjie, Junior, in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Joune, myne, ons s’n

Wanneer daar kinders betrokke is, soos in Elani en Wim se geval, kan dinge nog meer gekompliseerd raak. Meeste ouers stel die belange van hulle kinders eerste en die onderskeie partye in ’n verhouding moet dit aanvaar. Weer eens is kommunikasie belangrik, nie net tussen die paartjie nie, maar ook tussen die ouers en hulle kinders en die onderskeie kinders. Indien net een van die paartjie kinders het, moet jy jouself afvra of jy die kind of kinders gaan aanvaar en of jy gemaklik daarmee gaan wees om hulle deel van jou lewe te maak.

Ouer, beter, beste?

Wanneer ’n paartjie met ’n groot ouderdomverskil bymekaar kom, sal daar altyd mense wees wat die somme gaan maak. “Ja, maar oor twintig jaar is hy 70 en jy 50 en dan wat?” byvoorbeeld. Dit is natuurlik ’n geldige opmerking en ’n gesprek wat julle sal moet hê voordat julle te ernstig raak. Maar soos hulle sê: Vandag se 70 is ’n dekade gelede se 50 en ouer bokke kan inderdaad nog ’n huppel in hulle stap hê.

Alles Malan is Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook te sienop DStv CatchUp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

‘n Baie mooi, jong groen blaar en ‘n ou bok met baie blare in die bank, kan seker vir ‘n ruk lank werk… totdat die ouderdom finaal toeslaan. Dan is die groen blaar maar weer alleen.

quartus ·

Al wat ek kan se is so verskil kan werk want ek is in so verhouding. Eeerstehandse ondervinding !

AH ·

My man was 8 jaar jonger as ek en ons was gelukkig getroud tot met sy dood in 2021. Ouderdom is net ‘n nommer en dit beteken niks as daar wedersydse respek en liefde soos in elke verhouding is nie. Mense wat hul monde daaroor wil uitspoel is myns insiens net jaloers. Daar is immers net 2 mense in ‘n huwelik en dus bly dit ‘n persoonlike saak. My Suster is baie gelukkig in haar tweede huwelik met ‘n man 19 jaar ouer as sy. Hy dra haar op die hande so anders as met haar eerste huwelik waar sy en haar man ewe oud was……

Mira ·

AH ja ek en my man het ook 8jaar verskil,maar ek ruil hom vir niks,liefde en respek is die belangrikste bestandeel in enige verhouding,ek steur my glad nie aan wat mense se nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.