Ouma, ken jou plek

Sean-Marco Vorster as Nico en Khadija Heeger as Gillian in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

Lee-Anne (Nicole Fortuin) vind nog haar voete met klein Nina en Nico (Sean-Marco Vorster) dink hy bewys haar ’n guns om haar ma, Gillian (Khadija Heeger), te laat kom om te help. Maar wanneer help ’n ouma en wanneer meng sy in? Hier is ’n paar moets en moenies.

  • As daar ooit ’n tyd was om onopgeloste familieprobleme uit te sorteer, is dit voor die geboorte van die kleinkind. Probeer om enige struikelblokke uit die pad te haal en fokus op die vreugde van die geboorte van die kleinding.
  • Aanvaar dat jy moontlik nie tevrede gaan wees met die baba se naam nie. Die dae van ellelange familiename en tradisies soos dat die eerste seun na die pa se pa vernoem word, is verby.
  • Daar is ’n baie goeie kans dat daar ook ’n ander stel oumas en oupas gaan wees. Gun hulle ook die tyd wat hulle met hulle kleinkind wil hê.
  • Die nuwe ouers gaan op hulle eie manier leer wat vir hulle werk en wat nie. Waak daarteen om hulle die hele tyd te vertel wat hulle moet doen en hoe dit gedoen moet word.
  • Moenie die nuwe ouers se drumpel deurtrap nie. Dit kan hulle dalk laat voel dat jy/julle hulle nie vertrou met jou nuwe kleinkind nie. Wees daar vir hulle en laat hulle weet dat jy net ’n telefoonoproep ver is indien hulle jou nodig het.
  • Maak seker dit gaan goed met die nuwe ma. Kyk uit vir tekens van nageboorte-depressie of selfs net ’n tekort aan slaap. ’n Paar goeie ure slaap terwyl ouma na die baba kyk, het al menige ma gered.
  • Sê vir die ouers so gereeld as wat jy kan dat hulle wonderlike ouers is. Hulle sal dit nie altyd voel nie, maar het dit nodig om te hoor.
  • Maak seker hoe die ouers oor sekere dinge voel, veral wanneer die baba ouer word. Moet byvoorbeeld nie vir die kinders te veel lekkergoed gee nie of vir hulle speelgoedwapens gee as jy dit nie eers met die ouers uitgeklaar het nie.
  • Onthou, jou skoondogter is met jou seun getroud en sy weet hoe hy grootgemaak is.
  • Moenie jou kleinkind met jou eie kinders vergelyk nie. Om te sê dat jou babas op 11 maande al geloop het of op twee maande al deurgeslaap het, help niemand nie.
  • ’n Kompliment gaan baie verder as enige kritiek.
  • Moet nooit ’n ma laat skuldig voel indien sy weer gaan werk nie. Tye het verander en afgesien van vroue vir wie ’n loopbaan belangrik is, is dit vir die meeste gesinne finansieel voordelig as die pa en ma werk.
  • “Dalk is die volgende een ’n seuntjie.” Nee!
  • “Tog jammer hy het sy pa se neus.” Nog ’n nee!
  • Geniet elke oomblik. Soos iemand gesê het: Grootouers is ’n bietjie ouer, ’n bietjie onderwyser en ’n bietjie beste vriend.

Alles Malan is Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.